Luister in 3 minute: Lenings in dollars en bankstaking eers afgeweer

Foto: Pepi Stojanovski/Unsplash

Gerhard van Onselen, senior ontleder verbonde aan Sakeliga, kyk in die jongste 3 Minute, 3 Sake na die regering wat geld in dollars leen, die repokoers wat konstant gehou word en talle landwye stakings wat nou dreig.

Die Suid-Afrikaanse regering het vandeesweek effekte ter waarde van 5 miljard Amerikaanse dollar op die Europese markte geplaas.

Dit beteken dat die regering in die buiteland gaan geld leen het, maar nog belangriker, dat die lening in dollar en nie in rand nie gedenomineer is.

Gevolglik moet hierdie lenings in Amerikaanse dollar terugbetaal word – tot dusver was die beleid om meesal in rand te leen en terug te betaal.

Omdat rentekoerse oor die wêreld so laag is, is die “afslag” waarteen die Suid-Afrikaanse regeringseffekte nou verkoop uiteraard vir buitelanders aantreklik.

Groter skuld in ander geldeenhede, soos die dollar, dui op ʼn moontlike verandering van beleid met betrekking tot staatskuld.

Maar so ʼn beleid raak wel riskant vir die plaaslike belastingbetaler wanneer die rand verswak. Die randbedrag wat die regering vir skuld in Amerikaanse dollar sal moet opdok, sal toeneem indien die rand verswak.

Daar is reeds berig oor die Suid-Afrikaanse Reserwebank se rentekoersbesluit. Die bank se monetêre beleidskomitee het verlede week beslis dat die repokoerse onveranderd by 6,75% gehou sal word.

Die SARB het verder die noodsaak vir ekonomiese hervorming wat investering, strukturele doeltreffendheid en groei kan aanwakker, benadruk.

Die beleidskomitee het kommer oor groei- en indiensnemingsvooruitsigte op medium termyn uitgespreek.

Spanning oor internasionale handel, plaaslike hindernisse tot voorsiening in die ekonomie, asook stygende oliepryse, wat natuurlik brandstofpryse sal beïnvloed, word as dreigende gevare beskou. Verder bly die behoefte van die regering aan skuld hoog wat die rand verder onder druk kan plaas.

Vir Sakeliga is die uiteinde van die saak dat die ekonomie nie werklik deur laer rentekoerse reggeruk sal kan word nie. Wat nodig is, is markgerigte hervormings wat die ekonomie op ʼn gesonder en doeltreffender grondslag plaas.

Die vakbond Cosatu en sy filiaal Sasbo het ʼn landwye staking in die bankwese beplan, maar die staking is Donderdag deur die arbeidshof stopgesit. Die vakbonde wil staak weens ongelukkigheid oor herstrukturering by banke wat tot afleggings kan lei.

Sasbo het later gesê dit sal nie protesaksies Vrydag hou nie, maar beslis teen die hofinterdik appelleer terwyl dit ook aansoek sal doen om in ʼn later stadium wettige stakings te hou.

Die groot banke meen hulle moet herstruktureer omdat mense minder takke besoek en meer van elektroniese kanale gebruik maak. Volgens Sasbo sou tussen 30 000 en 40 000 mense aan die staking deelneem.

Die moontlike ontwrigting van sake, veral indien die betalingstelsels geraak word, kan groot wees.

Sakeliga wonder watter soort sukses die betrokke vakbonde met hierdie staking sal kan hê. Die opkoms van elektroniese dienskanale en bedryfsveranderinge in die banksektor is onafwendbaar.

Wat wel ʼn probleem is, is die onvermoë van die plaaslike ekonomie om werkers weer by ander sektore van produksie in diens te neem.

Dit is die gevolg van ʼn ekonomie wat in die geheel swak groei en deur skadelike duur beleid en politieke uitsprake belemmer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

aj ·

Jammer om die slegte nuus te bring!

Die ANC het in ALLE OPSIGTE misluk as regering.

Meer geld, op welke wyse ookal verkry, kan nie die selfvernietigende beleid van die ANC regstel nie.

Die ANC is wesentlik geprogrammeer (gedoem) tot selfvernietiging!

Bewys my verkeerd!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.