Luister in 3 minute: Lig aan einde van kragkrisis; groen krag in Noord-Kaap

(Foto: Matthew Henry/Unspslash)

In die jongste aflewering van 3 Minute, 3 Sake bespreek Gerhard van Onselen van Sakeliga die moontlikheid van lig aan die einde van Suid-Afrika se elektrisiteitskrisis. Hy maak ook ʼn paar afleidings uit ons land se nuwe infrastruktuurplan en verwys na die Noord-Kaap se groenkragplan as ʼn gevallestudie.

Die minister van minerale hulpbronne en energie, Gwede Mantashe, het verlede Donderdag ʼn welkome wysiging aan die Wet op die Regulering van Elektrisiteit gepubliseer.

Ingevolge hierdie wysiging word sekere elektrisiteitsprojekte nou van lisensiëring vrygestel. Dit sluit byvoorbeeld in: opwekking vir bystandkrag, sekere opwekking sonder netwerkkoppeling en opwekking van tot 100 MW, maar met registrasievoorwaardes.

Die oopstelling van private opwekking is inderdaad welkom. Tog lyk dit of die regulasies ook probleme inhou. ʼn Regskenner en prokureur, Sue Röhrs, meen dat die regulasies swak geskryf is en tot onsekerheid kan lei.

David Maynier van die DA het ook duidelikheid versoek oor die rol van munisipaliteite en die verkoop van krag aan eindverbruikers.

Op die oog af sal die proses om private projekte by die netwerk te laat aansluit nie eenvoudig wees nie.

Tog is dit in almal se belang om sulke projekte van stapel te stuur om gedesentraliseerde kragsekerheid te bewerkstellig.

Die regering het ʼn nuwe infrastruktuurplan vir kommentaar bekend gemaak. Hierdie plan, wat ver vooruit kyk, tot by 2050, beoog heelwat groot openbare projekte vir Suid-Afrika.

Verskeie groepe in die boubedryf het die plan verwelkom, maar kommer is uitgespreek oor die regering se rekord by die uitvoer van groot projekte.

Die plan beoog ʼn beleggingskoers van 30% van bruto binnelandse produk (BBP), ʼn derde daarvan deur die openbare sektor.

Hoë geldbelegging is gewoonlik wenslik, maar staatsbelegging toon gereeld verkwisting. Die rede daarvoor is die toedeling van hulpbronne buite die insig en dissipline van markseine.

Die plan sluit in die voorbehoud van inklusiewe groei, ruimtelike gelykheid, swart ekonomiese bemagtiging en transformasie – kwessies wat vir ons by Sakeliga daarop dui dat volgehoue inmenging of staatsbeheer van openbare belegging te wagte moet wees.

In die algemeen beskou Sakeliga dié soort planne met skeptisisme, veral waar dit op grootskaalse sentrale infrastruktuurbeplanning neerkom. Ons wil groter markgerigte belegging sien.

Daar waar hulpbronne bestee word, is ook geleentheidskoste. Gegewe die rekords, vertrou ons ANC-beplanners om sulke koste reg te oorweeg?

En laastens, ʼn gevallestudie oor die toepassing van groen krag in die Noord-Kaap. Die Noord-Kaap was vir ʼn geruime tyd die gekose plek vir verskeie “groenkragprojekte”.

Die rede daarvoor is die provinsie se gunstige toestande van sonskyn en wind.

Die probleem is egter om die elektrisiteit deur die netwerk te stuur, en daarvoor sal Eskom miljarde rande moet bestee om verdere uitbreidings in die Noord-Kaap moontlik te maak.

Eskom se finansiële bronne maak sodanige groot uitbreidings onwaarskynlik. Gevolglik is projekte in die Noord-Kaap eers versadig. Nuwe hernubare projekte sal moontlik in ander provinsies gevestig moet word.

Ongelukkig is die lot van “groen projekte” steeds aan Eskom gekoppel.

Nuwe mededinging in kragopwekking is inderdaad baie positief. Maar verbruikers kan wat ons betref ook baat by die oopstelling van en direkte mededinging met ander dele van Eskom, soos netwerk en verspreiding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eend Bessinger ·

Dis hoogtyd dat SA oorskakel na groen-energie. Ons is vêr agter die wêreld met digitale TV, LTE-internet EN groen-energie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.