Luister in 3 minute: Mantashe sê myne kan self krag opwek

Minister Gwede Mantashe. Foto: @MiningIndaba
/Twitter

Die hoofsake wat in vandeesweek se 3 Minute, 3 Sake bespreek word, is: Mantashe se uitsprake oor elektrisiteitvoorsiening, die Absa-aankopebestuurdersindeks bly swak en sakestatistieke oor likwidasies wek kommer.

Gerhard van Onselen, senior ontleder by Sakeliga, begin met moontlike gedeeltelik goeie nuus. Gwede Mantashe, minister van mynbou en energie, het by vanjaar se mynbou-indaba aangekondig dat myne toegelaat sal word om hul eie elektrisiteit op te wek. Hulle sal egter steeds lisensies benodig om krag te kan verkoop.

Mantashe het daarby genoem dat planne oorweeg word om ʼn tweede elektrisiteitsmaatskappy, soos Eskom, op die been te bring.

“Die plan om myne toe te laat om self krag op te wek is prysenswaardig. Dit kan druk op die netwerk verminder en help om produksie in stand te hou.

“Dit is egter onseker wat die effek van ʼn tweede Eskom kan wees. Die moontlikheid van markdruk deur mededinging is sekerlik welkom.

Tog moet ons in ag neem hoe die regulerende raamwerk so iets sal opneem. Vir die mark om te werk is nuwe toetreders, maar waarskynlik ook ʼn hersiening van energiewetgewing nodig,” het Van Onselen gesê.

Die Buro vir Ekonomiese Ondersoek (BER) het onlangs in samewerking met Absa, die Absa-aankopebestuurdersindeks (oftewel die ABI) vir Januarie 2020 uitgereik.

Die ABI gee ʼn breë aanduiding van ekonomiese aktiwiteite in Suid-Afrika se ekonomie. Die indeks berus op ʼn peiling wat die Buro vir Ekonomiese Ondersoek onder aankopebestuurders onderneem.

Hierdie indeks het gemaklik onder 50 gebly – wat daarop dui dat ekonomiese aktiwiteit swak gebly het.

“Verder staan veral die subindeks oor indiensneming vir ons uit. Hierdie subindeks is naby aan sy swakste vlakke in baie jare, tans onder ʼn vorige laagtepunt in 2011. Dit dui uiteraard op moeilike indiensnemingstoestande,” het Van Onselen bygevoeg.

Laastens kyk hy na nog kommerwekkende sakenuus oor insolvensies en likwidasies. Volgens die jongste statistieke hieroor was dit in 2019 die hoogste nog in ʼn bestek van vyf jaar.

Volgens ontleders by Momentum is dit in die sektore wat van verbruikersbesteding afhanklik is waar die grootste negatiewe impak gesien is.

Redes hiervoor, meen die ontleders, is ʼn daling in internasionale aanvraag gekoppel met plaaslike probleme. Uiteraard het voortslepende kragtekorte ʼn rol gespeel – maar stygende bedryfskoste word ook as ʼn rede genoem.

“Die realiteit van die saak is dat Suid-Afrika neigings van de-ontwikkeling toon,” het Van Onselen gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.