Luister: Mboweni meen derde vlaag Covid-19 mag ekonomie nie knel

Tito Mboweni, minister van finansies. (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

In die jongste aflewering van 3 Minute, 3 Sake bespreek Gerhard van Onselen van Sakeliga die minister van finansies se uitsprake oor inperkings en die derde vlaag van Covid-19. Hy kyk ook na die noodaankope vir die land se energiekrisis en bespreek die tesourie se jongste regrukplan vir die ekonomie.

Tito Mboweni, minister van finansies, het volgens mediaberigte aangedui dat enige derde vlaag van Covid-19 so hanteer moet word “dat die land steeds die ekonomie aan die lewe kan hou”.

Dit beteken dus dat verdere roekelose inperkingsmaatreëls nie bekostig kan word nie. Sakeliga was van die staanspoor af skepties oor die hantering van Covid-19 met hardhandige ekonomiese inperkingsmaatreëls.

Mboweni se stellings vind plaas teen die agtergrond van twee bykomende skuldafgraderings deur Moody’s en Fitch. Dit laat Suid-Afrikaanse regeringskuld dieper in sogenaamde “rommelstatus” afsak.

Mboweni meen indien die ekonomie nie aan die gang gehou kan word nie, sal dit die regering se fiskale raamwerk beskadig.

In wat blyk soos goeie nuus het Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, aangekondig dat die eerste 2 000 MW se noodkragaankope goedgekeur is.

Hierdie plan sluit ʼn lys van voorkeurbieërs in, wat onder meer Turkse kragskepe behels. Die plan is om die eenhede teen Augustus 2022 aan die plaaslike kragnetwerk te koppel.

Hierdie stappe is welkom, maar te veel hang steeds van Eskom af.

Die energiekenner Chris Yelland noem aan Rapport dat Eskom nie deur instandhouding sy vloot se werkverrigting tot by voldoende vlakke sal kan kry nie.

Kommer is ook gemeld oor die moontlikheid van omgewingsimpaklitigasie oor die kragskepe.

Die huidige aankoop-prosesse hou egter steeds vir Eskom in die tuig as die grootste voorsiener van elektrisiteit.

Werklike privatisering van die kragnetwerk, waar daar daadwerklik met Eskom meegeding kan word en volgens markseine beplan kan word, ontbreek steeds.

Wat nodig is, is dat munisipaliteite, gemeenskappe en ander belanghebbendes werklik op ʼn groot skaal elektrisiteit mag koop, verkoop en opwek buite die Eskom-monopolie.

Die Wes-Kaapse regering doen reeds stappe in hierdie rigting om munisipaliteite onafhanklik van Eskom te kry. Dit vorm deel van ʼn insiggewende munisipale energieveerkragtigheidsprojek.

Laastens, die tesourie het onlangs ʼn kennisgewing oor Operasie Vulindlela uitgereik.

Dit is ʼn volgende beoogde regrukplan vir die ekonomie. Dit word beskryf as nie net nog ʼn burokratiese plan nie. Dit leun egter sterk op planne soos dié van die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP).

Die plan beoog sogenaamde “strukturele hervorming” – maar wat beteken dit?

Dit sluit onder meer planne in om onafhanklike kragopwekking (sover moontlik) uit te brei, om Eskom in drie dele op te breek, asook munisipale krag te verbeter. Sakeliga meen Suid-Afrikaners het al hierdie planne al vantevore gehoor.

Verder: radiospektrum, digitale migrasie (vir TV), digitale netwerke, watergebruikslisensies, waterinfrastruktuur en regruk van munisipale dienste. Daar’s ook planne vir Transnet en die oopstel vir private deelname in spoorweë, makliker werkspermitte en e-visums.

Met ander woorde, die operasie poog om dinge reg te ruk waar die staat en sy vertakkinge in elk geval die spreekwoordelike “bottelnek” is.

Vulindlela sluit egter nie grootskaalse hersiening en afstel van skadelike wette en beleid in nie. Die regering stoom byvoorbeeld voort met onteiening sonder vergoeding.

Sakeliga meen dit is eintlik die soort hervorming wat benodig word. Arbeidswetgewing, swart ekonomiese bemagtiging, regstellende aksie, asook allerlei skadelike inmenging en gevaarlike onteieningsvoorstelle in die algemeen word byvoorbeeld nie hersien nie.

Dié sake-organisasie meen Operasie Vulindlela skiet ongelukkig ver tekort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

pompies ·

Alles het deesdae n “regruk plan” maar niks word reg of geruk nie. Dit is besigheid soos altyd hier.

daniel ·

Dit was nie covid wat die ekonomie geknel het nie , maar die korrupsie .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.