Luister in 3 minute: Mboweni waarsku die ANC

Minister Tito Mboweni. (Foto: Nokuthula Mbatha/ANA)

In die jongste 3 Minute, 3 Sake kyk Gerhard van Onselen, senior ontleder by Sakeliga, na die minister van finansies se waarskuwing aan die ANC, die presidensiële adviespaneel oor die ekonomie en ʼn skoolverlatersertifikaat vir gr. 9-leerders.

Tito Mboweni, minister van finansies, het hierdie naweek weer eens die benarde situasie van die regering se finansies op die ANC se vergadering van die lede van die nasionale uitvoerende komitee beklemtoon. Hy het ook gesê groeivooruitsigte vir die land se ekonomie het nou selfs nog verder verswak.

Die ANC sal Mboweni se beleidsplan binnekort op ʼn beraad van die party se alliansievennote bespreek. Sakeliga sal fyn op die reaksie op die beraad, eerder as die plan self, let aangesien dit baie kan sê oor die party se planne vir die land se ekonomie in die toekoms.

Van Onselen bespreek oor pres. Cyril Ramaphosa se presidensiële adviespaneel oor die ekonomie. Hierdie paneel bestaan uit 18 persone wat akademici, ekonome en ontleders insluit, en wat die president oor die land se ekonomiese uitdagings moet adviseer.

“Soos baie van pres. Ramaphosa se planne lyk die adviespaneel na ʼn goeie idee, maar ons kan nie help om te wonder wat hieruit sal voortspruit nie. Tong in die kies gesê met 18 ekonome om die tafel sal daar sekerlik minstens 18 verskillende planne op die tafel vir die Suid-Afrikaanse ekonomie wees,” het Van Onselen gesê.

Sakeliga wil egter weet of privatisering, wegdoen van onnodige rompslomp en meer ruimte vir private ondernemerskap uit die paneel voorgestel sal word.

Hy werp ook die soeklig op die departement van basiese onderwys wat ʼn gr. 9-skoolverlatersertifikaat beoog vir leerders wat dan die skool wil verlaat.

Politieke partye soos die DA het reeds sterk kapsie teen die plan gemaak en minister Angie Motshekga daarvan beskuldig dat sy ʼn klas van werkers wil skep wat net vir ongeskoolde werkers met lae besoldiging goed genoeg sal wees.

Sakeliga wonder reeds oor die staat van die nasionale seniorsertifikaat vir matrikulante.

“Dit is ongelukkig so dat hierdie sertifikaat reeds lankal nie meer voldoende is om jong mense vir die werkplek voor te berei nie,” het Van Onselen gesê.

Sakeliga meen die onderwysstelsel is oor die jare heen al hoe meer onder die staatsbeheer gesentraliseer wat gelei het tot ʼn enorme en ondoeltreffende onderwysburokrasie.”

“Wat onder meer nodig is, is meer onderwysentrepreneurs, onderwysmarkte en opsies wat met mekaar in die bedryf kan meeding om sake in die onderwyssektor reg te ruk.”

  • Luister na Van Onselen se volledige uiteensetting van hierdie week se grootste sakekwessies bo-aan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jerry ·

Mboweni waarsku die ANC! Dieselfde ANC wie nie geld gaan bele in sy plan nie, terwyl hy deel is van die ANC en dus strategies eintlik besig is om die anti sosialistiese beleggers te paai sodat hulle hul geld moet bele in die staat, vir die ANC. Luister julle maar vir die uitgeslape ANC kaders wat julle mislei sodat julle moet toelaat dat hulle julle privaat en pensioenfondse kan gebruik om daarmee kamtig die rand op te tel. Die ANC gaan die koei eers heeltemal leegmelk voordat hulle, hulle sal wend na die IMF en China vir geld vir die ANC en eers dan sal die ANC die rand optel vir die ANC. Hoekom vat die ANC nie nou n IMF lening nie, want met daardie streng maatreels en voorwaardes sal die ekonomie herstel en dit was nog nooit en is ook nie nou die ANC se plan nie. Die ANC plan is om sonder streng maatreels en toesig eers die belastingbetaler se fondse leeg te plunder vir die ANC. Besigheidsgerigte ekonome sal val vir die geelwortel wat Mboweni uithang, so ook ekonome se goedgelowige kliente, wie die arme belastingbetalers is agter wie se fondse die Mbowenis van die ANC, nou met alle erns aan is! Die ANC reken dat belastingbetalers na staatskaping, gyselaars is wat net gepaai hoef te word en dan sal toegee om die losprys van privaat en pensioenfondse wat die ANC nou eis, in die ANC staat, vir die ANC te bele!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.