Luister in 3 minute: Moody’s kap metrorade se skuld; lesse te leer uit onluste

(Argieffoto)

In die jongste aflewering van 3 Minute, 3 Sake fokus Gerhard van Onselen, senior ontleder by Sakeliga, op die verdere kredietafgradering van sekere metrorade se skuld. Hy verduidelik waarom die praatjies van sameswerings in die onlangse onluste ons nie moet flous nie, en bespreek watter lesse daar te leer is uit die gebeure van verlede week.

Die kredietgradeerder Moody’s het onlangs van die land se groot metrorade se skuld verder afgradeer. Die Stad Kaapstad, die Nelson Mandela‑ metropolitaanse munisipaliteit, Johannesburg en Ekurhuleni is onder meer afgradeer.

Die Stad Kaapstad het wel daarteen teruggekap.

Die rede vir die afgradering was die druk op metrorade se likiditeit (kontantvloei). Die gradeerder verwag dat plaaslike regerings kontantbuffers sal moet gebruik, wat kredietprofiele sal verswak. Dit sal ook die vermoë om toekomstige skokke te absorbeer verswak.

Moody’s verwag ook dat munisipaliteite sal sukkel om ʼn balans te vind tussen bedrywighede, inkomste en kapitaalbesteding. Moody’s wys daarop dat verbruikersbesteding in 2020 onder druk gekom het, wat gemaak het dat munisipale heffings en dienste-gelde lae prioriteit vir baie huishoudings was.

Volgende, die Sentrum vir Risiko Analise (CRA) het vandeesweek kommentaar gelewer op die onlangse onluste veral in KwaZulu-Natal.

Dr. Frans Cronjé van dié sentrum meen dat Suid-Afrikaners hulself nie deur praatjies van sameswerings moet laat mislei nie. Sekerlik is daar aangehits, maar grootliks is die onluste ʼn natuurlike reaksie op maatskaplike en ekonomiese omstandighede.

Hy meen dit vloei voort uit ʼn welbekende verhouding tussen sosio-ekonomiese toestande en interne stabiliteit. Suid-Afrika het in die verlede gesien waar die ekonomie sterk is, is stabiliteit in die algemeen sterker.

Die afgelope beleidsreaksie in Suid-Afrika – nie net die inperkingsvlakke nie, maar ook ander beleide soos op arbeid – het die ekonomie verswak. ʼn Swak ekonomie skep groot desperaatheid in ʼn land soos Suid-Afrika, waar werkloosheidsvlakke, veral onder die jeug, hoog is.

Volgens Cronjé word dit die spreekwoordelike kruitvat wat wag vir ʼn vonk om vlam te vat.

En laaste, die N3-deurpad, ʼn hoofroete tussen KwaZulu-Natal en Gauteng, is oopgestel, en die vloei van noodsaaklike goedere tussen die twee provinsies is herstel.

Sakeliga en ander instellings het verlede week selfs ʼn nood-konvooi saamgeroep om noodvoorraad na geplunderde gebiede te stuur. Met die opening van die N3 het die prentjie verander – deelnemers aan die konvooi het daarna individueel en op eie inisiatief begin reis.

Sakeliga verskuif nou die fokus weg van die heropening van die transportroete na ondersteuning aan welsynsorganisasies en ondernemings in die algemeen.

Ons hoop dat dit nie nodig sal wees nie, maar Sakeliga is gereed om spesifieke stappe te doen indien toekomstige onrus weer sterk reaksie van die sake-omgewing verg.

Is daar lesse te leer na verlede week se gewelddadige onluste in die twee provinsies? Sekerlik wys die onluste en sluiting van groot logistieke roetes dat Suid-Afrika blootgestel is aan ontwrigtings van voorsiening.

Alle Suid-Afrikaners moet aandag aan veerkragtigheid gee. Basiese voorbereidheid soos die berging van kos en water in huishoudings, asook persoonlike, korporatiewe en gemeenskapsveiligheid is noodsaaklik. Klein sake-ondernemings sal ook strategiese planne moet bedink om hierdie soort ontwrigting te bowe te kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.