Luister in 3 minute: ʼn Belastingrevolusie en Eskom se omkeerplan

Edward Kieswetter, kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens. (Foto: Facebook)

Gerhard van Onselen, senior ontleder by Sakeliga, kyk in die jongste aflewering van 3 Minute, 3 Sake na die belastinghoof se kommer oor ʼn moontlike belastingrevolusie.

Hy bespreek ook die besonderhede van Eskom se omkeerplan en benadruk weer eens dat die staat se besteding ingeperk moet word met ʼn vooruitskouing na die mediumtermyn begrotingsrede wat in Oktober sal plaasvind.

ʼn Moontlikheid van ʼn belastingrevolusie

Edward Kieswetter, hoof van die Suid-Afrikaans Inkomstediens, was by ʼn onlangse Belasting Indaba aan die woord waar hy gewaarsku het dat jare lange korrupsie kan meebring dat Suid-Afrikaners kan ophou om belasting te betaal as ʼn manier van protes.

Dit meen Kieswetter kan daartoe lei dat die regering sal moet aanklop by die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) vir ʼn lening om die staat se boeke te laat klop, iets wat die regering tot dusver ten alle koste wil vermy.

Sakeliga meen Kieswetter eggo, snaaks genoeg, die gedagtes van Helen Zille, voormalige premier van die Wes-Kaap, wat vroeër in 2018 gesê het korrupsie kan maklik tot ʼn belasting-boikot lei. Sy het vir hierdie uitlating ʼn groot pak slae in die media gekry.

“Hewige belastings op ʼn klein aantal effektiewe belastingbetalers skep natuurlik sy eie ekonomiese probleme. Die korrupte verkwisting van belastinggeld is ʼn dubbele hou op die ekonome maar slegs ʼn deel van die groter probleem.

“Hewige belasting spruit voort uit ongunstige regeringsbeleid, terwyl dit ook sy eie negatiewe impak op ekonomiese vooruitsigte het,” sê Van Onselen.

Besonderhede oor Eskom se omkeerplan bekend

Die media doen tans verslag oor ʼn uitgelekte dokument wat Jabu Mabuza, adjunk uitvoerende hoof van Eskom, blykbaar onlangs aan Eskom-topbestuur aangebied het.

Volgens die dokument is Eskom inderdaad erg in die knyp.

Die plan om die maatskappy reg te ruk sluit oënskynlik in hoër-as-inflasie tariefverhogings, beter skuldinvordering, reddingsboeie en beter kostebestuur.

“Dit is geensins nuwe gedagtes nie,” meen Van Onselen.

Hy werp ook verdere lig op die ontknoping van Eskom: Die transmissie-eenheid sal van opwekking en verspreiding geskei word, maar al drie afdelings sal in staatsbesit bly.

Na Sakeliga se mening sal die sukses van die omkeerplan uiteindelik daarvan afhang of die private sektor hierby betrek word.

“Dit moet op só ʼn wyse gedoen word dat ondernemings en entrepreneurs met min beperkings tot elektrisiteitsvoorsiening kan toetree. Indien dit nie gebeur nie, sal dié ontknoping slegs op ʼn duur vorm van skynhervorming neerkom,” sê Van Onselen.

Mediumtermyn begroting en staatsbesteding

Om die boeke in die mediumtermyn begroting in Oktober te laat klop is daadwerklike inperkings van staatsbesteding nodig, maar Sakeliga meen daar is maar min ruimte vir belastingverhogings.

Prof. Jannie Rossouw, van Wits se Skool vir Sakewetenskappe, het onlangs gesê dat betekenisvolle inperkings van die staat se uitgawes by die staatdiens se salarisrekening moet begin.

Dit beteken nie noodwendig afleggings nie, maar streng maatreëls soos moratoriums op nuwe aanstellings en bevorderings is nodig.

Verder meen Rossouw moet die verwagting oor verhogings in die staatsdiens bestuur word maar met aktivistiese vakbonde in die staatsdiens is dit makliker gesê as gedaan.

Rossouw reken dat die tesourie se mikpunte vir besuiniging net sal realiseer met die kabinet se steun en effektiewe leierskap van pres. Cyril Ramaphosa.

Sakeliga sal die mediumtermyn begroting oorweeg en na afloop van die begroting ʼn mening daaroor lewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Herman Goosen ·

SAL se vliegtuie se vlerke is ook lam geklap van al die omkeer steategieë. Probleem is sat selds fantastiese planne deur swak bestuur misluk. Ons almal weet dat Eskom sit waar hy sit weens wanbestuur en indien bevoegde mense nie aangestel word nie “omkeer strategie” net nog ‘n vloekwoord in die SA besigheid wêreld word soos “verantwoordbaarheid” en “BEE” Indrukwekkende terme wat geen positiewe bydrae maak tot die land se ekonomie nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.