Luister in 3 minute: ’n Spesiale fokus op Covid-19

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Zhang Yuwei/Xinhua via AP)

Baie welkom by ʼn spesiale langer uitgawe van 3 Minute, 3 Sake wat spesifiek fokus op vrae rakende Covid-19. Met vlak 1 van die nasionale staat van inperking is dit nou nodig om die maatreëls wat oorbly, asook Covid-19 self, vir ’n slag onder oë te neem.

In hierdie aflewering beskou Gerhard van Onselen, senior ontleder by Sakeliga, belangrike vrae oor die Covid-19-siekte, maar veral die hantering daarvan in konteks van openbare beleidsbesluitneming en regulasies.

Volgens die groep, Business for Ending Lockdown (B4EL), bly daar te midde van vlak 1 steeds aansienlike beperkinge op aktiwiteit oor. Enige stap na gemakliker beperkinge is natuurlik beter. Sakeliga meen egter van die staanspoor af dat inperkings op een, eintlik inperkings op almal is.

Algehele beperkinge staan miskien nog in uitgesoekte bedrywe, soos nagklubs, maar werkverliese en inkomsteverliese in sulke bedrywe het oorspoel-effekte. Beskadigde koopkrag beïnvloed die hele ekonomie. Die gevolg is ʼn handrem op algehele bedrywighede.

Ander beperkinge soos op kapasiteitsbeperkinge en ander beperkinge belemmer steeds die lewensvatbaarheid van heelwat ondernemings, veral klein ondernemings, en sakemodelle. ’n Ander probleem is die stuksgewyse oopmaak van internasionale toeriste se toegang tot Suid-Afrika onderworpe aan dreigende kwarantyn op eie onkoste.

Hoe aantreklik maak dit die land werklik as huidige toerismebestemming?

Baie kritiek word verder gelewer oor die aandklokreël wat nie heeltemal opgehef is nie. Dit stel ernstige vrae oor die bedeling se respek vir burgerregte en sakevryhede.

Die groter probleem is egter dat daar min duidelikheid is oor die opheffing van die ramptoestand self.

Met die ramptoestand steeds in werking, is daar blywende onsekerheid vir sakebeplanning, beleggings en nuwe projekte, en dit belemmer huidige en toekomstige vooruitsigte.

Dan kyk ons ook na die wêreld se nuwe vrese oor sprake van ’n tweede golf van Covid-19.

Ons versoek egter lesers om versigtig te kyk na lande met nuwe toenames in gevalle ná ’n afname. Word sulke gevalle beduidend gevolg deur samelopende toenames in sterftes?

Lande soos die Verenigde Koninkryke, Spanje en Italië beleef tans ’n toename in gevalle, maar gelukkig, sover, word daardie lande nie met ’n samelopende dienooreenkomstige toename in Covid-19-verwante sterftes gevolg nie.

(Grafika: Verskaf.)

Daar is waarskynlik baie redes vir nuwe toenames in gevalle in sekere lande. Dit kan bloot wees omdat meer getoets word. Die aantal toetse en die positiewe gevalle (persentasie) per toetse, en huidige sterfte- en hospitalisasiekoerse, moet oorweeg word vir ’n geheel prentjie.

Dit word gesê teen die agtergrond van die effekte van die siekte wat minder erg is as die aanvanklike ramings van modelleerders, soos van die Imperial College. In Suid-Afrika het een van die amptelike modelle, in die ergste geval, 350 000 sterftes voorsien. Tans is daar steeds minder as 20 000 sterftes, met dalings in koerse – selfs terwyl regulasies verder verslap is en mobiliteit deurlopend toegeneem het.

(Grafika: Verskaf.)

Ter agtergrond: Oor die laaste dekade (waarvoor Stats SA-data beskikbaar is) het daar tussen 450 000 en 600 000 mense per jaar in Suid-Afrika gesterf. In 2017, volgens Statistieke SA (jongste data), het byna 30 000 mense aan tuberkulose gesterf en minder as 20 000 aan griep en longontsteking.

(Grafika: Verskaf.)

Laastens, dan ook ’n opmerking oor die prioriteite van openbare beleidmakers. Reg of verkeerd, heelwat regerings het opgetree aan die hand van modelle wat – soos dit tans lyk – die siekte se impak erg oorskat het.

Die gevolg was ongekende en “ongetoetste” noodtoestande, landwye kwarantyn van gesonde bevolkings en ander ingrypende inperkings.

Die Suid-Afrikaanse regering, en ander, het besluit wie mag handel of nie, en wie is ekonomies “essensieel” of nie. Sulke maatreëls is egter nog nooit tevore op so ’n wêreldwye skaal afgedwing nie. Gesondheidsrisikobestuur is nou gesentraliseer in die hande van gesondheidsamptenare en regeringsburokrate.

In baie lande word inperkings steeds volgehou of selfs heringestel. Selfs soos meer oor die siekte en die mees vatbare persone in die bevolkings bekend word, in nuwe data.

Die gevolg van die hantering van Covid-19 is op die oog af dat een siekte die spreekwoordelike “begin en einde” van beleidmakers se doelwitte geword het.

Dit, meen ons, is uiters twyfelagtig en bes moontlik baie gevaarlik. Voorsienbare newe-effekte, waaroor beleidmakers van die begin af gewaarsku is, word nou al hoe duideliker. Volgende ’n voorbeeld daarvan.

TB-toeste neem dramaties af, denkbare impak op ander siektes wek kommer.

Suid-Afrika se Nasionale Instituut van Oordraagbare Siektes (Nios) het op 16 September ʼn verslag uitgereik waarin daar aangedui word dat die inperkings ’n dramatiese en skielike afname in TB-toetse veroorsaak het. (Sien gerus die grafiek wat ontleen is uit die verslag.) Nios verwag dat dit die bestuur van TB in Suid-Afrika nou ’n knou toegedien het.

(Grafika: Verskaf.)

Las van siektes soos TB

Presiese syfers is moeilik, maar geskatte TB-gevalle in Suid-Afrika staan in die honderde duisende. Ontwrigtings van TB-programme gaan daarom baie pasiënte in absolute getalle raak.

TB is maar slegs een voorbeeld. Die ontwrigting van programme vir HIV-bestuur is nog een. So ook kan ontwrigte behandeling of voorkoming van hartsiektes, diabetes, kanker en ander relevante siektes bydra tot slegter uitkomstes vir openbare gesondheid.

Ter konteks: Volgens Statistieke SA was die onderskeidelike sterftes in 2017 aan verkillende siektes (uitgesoek ter illustrasie) soos volg: Aan TB: 28 700; kankers – uitgebreide kategorie: 43 000; diabetes mellitus: 25 300; en HIV: 21 400. Dit is waar hierdie siektes as onderliggende oorsaak van ’n sterfte aangedui is (afgerond). Dit is ongeveer 120 000 sterftes in 2017, of sowat 27% van alle sterftes van sowat 450 000

(Grafika: Verskaf.)

Wat is die absolute getal van siektetoestande (anders as Covid-19) wat geraak is?

(Grafika: Verskaf.)

By sulke siektes is sterftes natuurlik ’n kleiner fraksie van die totale aantal gevalle van die siektes in die bevolking – dink maar aan die spreekwoordelike oortjies van die seekoei. Dus beteken 120 000 sterftes (in die voorbeelde hierbo) heelwat meer gevalle van die betrokke siektes. Hoewel ons nie syfers vir 2020 het nie, is hierdie siektes nog elke jaar beduidend by sterftes in Suid-Afrika betrokke.

Dink ook aan hartsiektes, beroertes en sirkulatoriese siektes (siektes van die sirkulatoriese stelsel) waar ongeveer 82 000 sterftes in 2017 aangedui is. By sulke siektes, spesifiek by akute hartprobleme en beroertes, is noodbehandeling uiters belangrik. Tot watter mate, kan ons wonder, is sulke noodbehandeling ontwrig tydens die inperking? (82 000 sterftes is gemiddeld omtrent 6 800 per maand of 224 per dag.)

Dit is denkbaar dat, in 2020, ontwrigting van die identifisering en behandeling van siektes soos TB, HIV, diabetes, kankers, en ander relevante siektes wat vroeë voorkoming benodig, baie gevalle (in absolute getalle) sou geraak het.

Die vraag is dan hoeveel gevalle geraak is en tot watter wisselwerking op die (huidige en toekomstige) las van siekte en oormaat sterftes in Suid-Afrika. Hierdie is die vrae wat plaaslike beleidmakers en gesondheidsliggame van die staat eerlik moet antwoord om die impak van die inperkings op openbare gesondheid redelik te weerspieël.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.