Luister in 3 minute: NGV, waterregte en die mededingingskommissie

Dr. Zweli Mkhize. Foto: Elmond Jiyane

In hierdie week se 3 Minute, 3 Sake bespreek Sakeliga die jongste oor die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV), beoogde wysigings aan waterregte, en laastens die mededingingskommissie wat Murray & Roberts‑samesmelting gestop het.

Die NGV gaan voort ten spyte van hewige kritiek uit verskeie oorde

Die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, beoog om spoedig alle Suid-Afrikaners op ʼn nasionale gesondheidsregister te registreer. Dit volg ten spyte van mislukte NGV-afskopprogramme en talle vrae oor die koste hiervan.

Teenoor ander ANC-ingrepe is die NGV wel een van die grootstes ooit. Die gevolge, sou dinge verkeerd loop, is daarom ook enorm.

Dit is egter die ekonomiese, fiskale en operasionele uitdagings van die stelsel wat tot dusver deur die departement misken word.

Uiteindelik kom die NGV dan neer op ʼn mediese subsidie en hoër belasting en dat elke Suid-Afrikaner sal moet aansluit, of hulle nou wil of nie.

Swaarder belasting het natuurlik sy eie gevolge – veral in die ekonomiese toestande soos dit nou is.

Dit is egter die reusagtige burokratisering en die regeringsoorname van die gesondheidsektor wat ʼn mens veral moet bekommer.

Soos lisensiekaartjies ons geleer het, is registrasie op ʼn databasis egter nooit die grootste uitdaging nie, dit is die goeie bestuur van hierdie hele stelsel wat die probleme skep.

ʼn NGV-administrasie soortgelyk aan die regering se lisensiekantore of binnelandse sake sal inderdaad rampspoedig wees.

Sisulu beplan om waterregte te herverdeel

Volgens minister Lindiwe Sisulu, minister van behuising en watersake, is te veel watergebruikregte in die hande van wit boere.

Sisulu se departement werk blykbaar aan ’n wetsvoorstel om waterregte te hersien. Sy koppel waterregte direk aan die vraagstuk oor grondbesit en meen meer waterregte moet aan swart boere toegedeel word.

Waterregte moet gevolglik in konteks van die vraagstuk oor grondbesit en onteiening sonder vergoeding gesien word.

Ingrepe by waterregte, wat burokratiese toedeling verhoog en mark-toedeling verskraal, gaan nuwe probleme skep.

Landbou-organisasies is met reg bekommerd oor die moontlikheid dat waterregte deur regeringsamptenare ontneem en hertoegeken kan word.

Dit sal landbou in die algemeen en eiendomwaardes van geraakte plase in die besonder kan skaad.

Verbod op oorname

Die mededingingskommissie het onlangs aanbeveel dat ’n oorname van Murray & Roberts deur die Duitse maatskappy Aton verbied word.

Die kommissie se rede: daar mag ingedruis word teen mededinging op die mark.

Tog is dit vreemd dat die kommissie ’n stokkie wil steek voor ’n transaksie wat, in hul eie woorde, vir goedkoper konstruksieprojekte en -insette in Suid-Afrika sou kon sorg, wat goed is vir ekonomiese insette.

Die kommissie volg natuurlik ’n bepaalde perspektief op die mededingingsteorie – een waarmee Sakeliga minder en minder kan saamstem.

Hierdie perspektief beoog ook om swart ekonomiese bemagtiging (SEB) sterker by kompetisie-ondersoeke in te skakel.

Die doel van die markekonomie is tog om hulpbronne in die hande van diegene te plaas wat die hulpbronne die doeltreffendste kan benut.

Die M&R-Aton‑samesmelting blyk op die oog af gunstig uit daardie perspektief.

Die kommissie se besluit, wat verbruikers uit die prentjie laat en goedkoper insette ignoreer, verdien beslis ’n mate van kritiek.

  • Luister na Gerhard van Onselen, senior ontleder by Sakeliga, se volledige uiteensetting van hierdie week se grootste sakekwessies boaan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Waarheid ·

Dankie sakeliga vir 3 min van nuus van goed en sleg, wat mens wéér laat met dié dankbaarheid, die mens wik maar God beskik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.