Luister in 3 minute: Nog reddingsboeie, strenger inperking vir Gauteng ondersoek

(Foto: Facebook)

In die jongste aflewering van 3 Minute, 3 Sake bespreek Gerhard van Onselen, senior ontleder by Sakeliga, die begrotingskantoor se visier wat ingestel is op die werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) en die openbare beleggingskorporasie (OBK)

Van Onselen kyk ook na die Landbank se wanbetalings en die strenger afsonderingmaatreëls wat vir Gauteng oorweeg word.

Luidens mediaberigte het die parlementêre begrotingskantoor vandeesweek voorstelle gemaak om die regering te finansier.

“Die fiskus is in die knyp en die honger na nuwe geldbronne neem toe. Die surplus in die WVF, geld in die OBK, en ʼn betalingsvakansie vir staatspensioenbydraes is onlangse voorstelle om die staat te finansier. Dit volg op sprake van nuwe belastings.

“Sommige ontleders beskou hierdie voorstelle as bewyse van aggressiewe interne teenkanting teen die jongste Mboweni-begroting,” sê Van Onselen.

Hy meen sulke voorstelle is kommerwekkend. “Dit beteken dat geld wat vir spesifieke doeleindes opsy gesit is, aangewend sal word vir algemene besteding. Die verpligtinge van die WVF en OBK gaan nie verdwyn nie, gevolglik kan die las uiteindelik op die belastingbetaler val. Dit dui op ʼn dieper gly in fiskale agteruitgang in.”

Van Onselen sê daar is al in die verlede voorstelle gemaak om die WVF-bydraes te verminder. Sodoende kon die surplus van die fonds verklein word deurdat geld verdienstelik in werkers se beursies bly, maar dit was van die hand gewys.

“Dit is die regering se bestedingsuitkyk wat ingeperk moet word. Daarsonder sal sodanige geld net ʼn tydelike pleister wees.”

Suid-Afrikaners sit en toekyk hoe nog ʼn reddingsboei toegeken word: Die keer ontvang die Korporasie vir Openbare Deposito’s (KOD) ʼn reddingsboei van meer as R3 miljard. Die KOD is die instelling wat die deposito’s van regeringsdepartemente en instellings neem en belê.

“Die reddingsboei volg op wanbetalings van skuld deur die Landbank wat aan die KOD verskuldig is. Dit het veroorsaak dat die KOD tegnies insolvent was in Maart. Sonder die waarborg was die regeringsdeposante se geld blykbaar in gedrang,” verduidelik hy.

Van Onselen meen dit is ʼn veelseggende simptoom van fiskale risiko’s wat toeneem soos verskeie regeringsinstellings agteruitgaan. Die agteruitgang is uiteindelik die gevolg van onvolhoubare sosialistiese beleid en inmenging.

“Die druk om besteding en reddingsboeie neem net toe. Dié reddingsboei is egter oudergewoonte in die vorm van ʼn waarborg toegeken, wat maar net beteken dat die belastingbetaler sal moet opdok as dinge nie uitwerk nie.”

Dr. Bandile Masuku, LUR vir gesondheid in Gauteng, (Foto: Twitter)

Laastens kyk hy na die moontlikheid van strenger Covid-19-inperkings vir Gauteng. Mybroadband noem dat die Gautengse regering selfs oorweeg het om terug te keer na ʼn sogenaamde harde inperking of vlak 5 van afsondering.

Sover het dr. Bandile Masuku, LUR van gesondheid in Gauteng, egter gesê dat slegs strenger toepassing van die Covid-19-regulasies in die stadium oorweeg word.

“Strenger polisiëring teen sosiale byeenkomste en verdere beperkinge op alkoholverkope is tans onder oorweging. Daar is selfs sprake van ʼn moontlike terugkeer na ʼn aandklokreël.

“Tog is die impak van strenger maatreëls op sy beurt ook nie sonder koste nie. Die inperkings gaan val op Suid-Afrika se ekonomiese kern en sal beslis ʼn impak op die groter ekonomie hê. Dit terwyl die bykomende nut van sommige van die regulasies, soos aandklokreëls, steeds bevraagteken kan word,” sê Van Onselen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Suzette ·

Al die reddingsboeie verdwyn in ‘n bodemlose put. Miskien moet daar reddingsboeie uitgegooi word na die belastingbetalers….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.