Luister in 3 minute: Nuwe belasting vir munisipaliteite en vryer handel in Afrika

belasting-ekonomiese-druk-stevepb-pixabay

Foto: Stevepb/Pixabay.com

In vandeesweek se  3 minute, 3 sake bespreek Gerhard van Onselen, senior ontleder by Sakeliga, die finansiële en fiskale kommissie se voorstelle vir munisipale belastings. Hy neem ook die tekort aan verpleegpersoneel in Suid-Afrika onder die loep en gesels oor die Afrika-vryehandelsooreenkoms wat Nigerië onlangs onderteken het.

Van Onselen sê die finansiële en fiskale kommissie, ʼn regeringsinstelling wat die regering oor staatsfinansies adviseer, het verlede week voorstelle oor die staatskas gemaak.

“ʼn Lang storie kort, volgens die verslag is munisipaliteite se skuld in ʼn gemors. Beter skuldbestuur en nuwe inkomste-strome, oftewel belasting, moet volgens dié kommissie gesoek word om die munisipaliteite se finansiële krisisse te bekamp.”

Die kommissie het die volgende nuwe soort belasting aanbeveel: weegbrug-, advertensie-, brand-, en vermaakheffings.

“Dit is opspraakwekkend, veral in die lig van die onlangse vaste heffings op elektrisiteit wat in die Johannesburg‑ en die Tshwane-metro ingestel is en die heftige teenkanting wat dit veroorsaak het,” sê Van Onselen.

Van Onselen meen die kommissie veronderstel verder dat die nasionale regering meer geld na landelike gebiede moet stuur en stede dan eerder op nuwe maniere belas moet word om hulle inkomste so aan te vul.

Groot tekort aan verpleegpersoneel

Hy kyk ook na die mediaberigte wat ʼn dreigende tekort aan verpleegpersoneel in die gesondheidsektor uitgewys het.

“Verpleging is natuurlik ʼn uiters uitdagende beroep en verskeie redes kan mense daarvan ontmoedig – dit is wel die geval dat die regering se eie onbekwaamheid en oorbetrokkenheid ʼn groot rol speel in die ontmoediging.”

Die uitwerking van haglike toestande in openbare klinieke en hospitale moet ook ingereken word.

“Volgens beroepsvakbonde word staatsopleiding nie voldoende met werkplasing opgevolg nie. Duidelik is die sentrale koördinasie tussen die nasionale en provinsiale departemente van gesondheid ʼn groot probleem.

“Hierdie toedrag van sake is kommerwekkend. Tekorte aan verpleegsters kos lewens,” sê Van Onselen.

Sakeliga meen private opleiding behoort toegelaat te word. “Groter sentrale staatsbeheer oor gesondheid, soos wat deur die nasionale gesondheidsversekering voorgestel word, is egter geen oplossing vir dié sektor se probleme nie.”

Afrika se eie vryehandelsgebied

Nigerië se president, Muhammadu Buhari, het verlede week die Afrika‑ kontinentale vryehandelsooreenkoms geteken. Dit is ʼn belangrike gebeurtenis aangesien Nigerië, een van die grootste Afrika-ekonomieë, die toekoms van die verdrag bepaal het.

Hoewel vryhandelsooreenkomste ook soms probleme inhou, is Sakeliga bly oor die voorstelle in die verdrag om handel te bevorder en invoerbelastings en beperkinge te verminder. Vermindering van wette wat teen vrye handel indruis, is altyd welkom.

“Die kwessie oor ʼn enkele geldeenheid vir Afrika verg verdere ondersoek en moet versigtig benader word. So ook moet ʼn mens versigtig kyk na die beleid wat so ʼn ooreenkoms onderlê. Dit kan soms onvoorsiene probleme skep,” waarsku Van Onselen.

Sakeliga meen hierdie proses sal wel nog ʼn geruime tyd duur en dat die organisasie die saak sal dophou.

  • Luister na die volledige bespreking van hierdie drie sakekwessies boaan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae