Luister in 3 minute: Onteiening, SAL en rentekoerse bespreek

Foto ter illustrasie. (Foto: Noah Silliman/Unsplash)

In vandeesweek se aflewering van 3 Minute, 3 Sake gesels Gerhard van Onselen oor die kommentare op die regering se onteieningswetsontwerp. Hy kyk ook na die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) en die besluit om rentekoerse onveranderd te hou.

Ons skop af met onteiening. Verlede week is verskeie opspraakwekkende mondelinge kommentare op die regering se prosesse oor onteiening gelewer.

Daar is kommentaar gelewer op die Grondwet se 18de wysigingswetsontwerp asook die huidige onteieningswetsontwerp. Albei voorstelle wil die beginsel van sogenaamde “nil vergoeding” tydens onteiening in Suid-Afrika se regstelsel vestig.

Sakeliga se kommentare meen dit is uiteindelik maar die beslaglegging van eiendom, maak nie saak hoe daar as’t ware met woorde gespeel word nie.

Sakeliga meen verder dat onteiening en vergoeding in bykans die meeste jurisdiksies as’t ware getroud is; as vergoeding nagelaat word, is dit nie meer onteiening nie, maar iets anders soos beslaglegging.

Sommige jurisdiksies, wys ontleders, betaal selfs “tranegeld”, iets bo markwaarde, om eienaars te vergoed vir die ongerief van onteiening.

Tydens die kommentare het die EFF weer gemeen die grond is gesteel en onteiening is nodig om dinge reg te stel. Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, het daarop gewys dat “siviele batebeslaglegging” in die geval van strafregtelike besit ʼn beter begrip is waar diefstal bewys kan word.

Die groter probleem, meen Sakeliga, is dat hierdie voorstelle indruis teen ʼn redelike begrip van ʼn geldige konstitusionele orde, waar die staat nie die burgery en gemeenskappe se onafhanklikheid en vryhede bedreig deur grootskaalse batebeslaglegging nie.

Aanduidings volgens min. Pravin Gordhan is dat die regering die koste van die lugredery se herkapitalisering sal betaal.

Dit kom weer daarop neer dat die belastingbetaler, en willens of wetens daarby, sal moet opdok. Die SAL is verder al ʼn geruime tyd besig met ʼn sakereddingsproses, wat ook die belastingbetaler reeds ʼn prys kos.

Die SAL bly verslaaf aan reddingsboeie – en daar was al baie meer as net een “regrukplan” vir die sukkelende lugredery.

Suid-Afrikaners hoor ook al ʼn geruime tyd lank gerugte oor ʼn private aandeelhouer, maar nie net kom die SAL met reusagtige skuld nie, maar ook met reusagtige politieke risiko’s.

Die SAL word verbete aan die lewe gehou, maar teen ʼn groot koste. Nie net in belasting nie, maar ook met ʼn koste vir die lugvaartsektor self.

Die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) het op sy laaste monetêre beleidsvergadering rentekoerse onveranderd gelaat.

Hierdie stap was nie regtig ʼn verrassing nie. Twee opmerkings in die Suid-Afrikaanse monetêre beleidskomitee (MBK) se beleidsverklaring is noemenswaardig.

Die MBK het juis swak kragvoorsiening asook swak beleggingstendense uitgewys as kwessies wat groei belemmer.

Die bank verduidelik dat ʼn skerp daling in openbare en private belegging in 2020 en in 2021 op groeivooruitsigte sal weeg.

Dit is nie verbasend nie, want baie van die voorstelle tans soos beslaglegging van eiendom druis juis in teen beleggersekerheid.

“Openbare investering” word nou gereeld genoem, maar dit bly ekonomiese sentrale beplanning volgens die staat en sy amptenare se oordeel.

Wat kort, is beleid wat private markgerigte investeerders gerusstel, want daarmee kan markgerigte samewerking en innovering intree om ekonomiese herstel te bewerk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nico ·

Hoekom word daar geld en nogmaals geld in SAL gepomp, wie dra die geld weg, die belasting betaler word leeg gemelk soos ‘n koei, sy kry ook nie kans om weer melk te produseer nie, kan ook nie besef dat SAL al die pad verloor nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.