Luister in 3 minute: Oor nóg regstellende aksie, protes en werksverliese

’n Duisend leë stoele in protes teen die inperkings wat die gasvryheidbedryf raak. (Foto: Kraak)

In die jongste 3 Minute, 3 Sake bespreek Gerhard van Onselen van Sakeliga die nuwe planne vir regstellende aksie wat voorgestel is. Hy kyk ook na die protesaksie van restaurante en die toermisebedryf teen inperkings en die reusewerkverliese wat die maatreëls teen Covid-19 meegebring het.

Die departement van arbeid en indiensneming het die afgelope Maandag ʼn wysigingswetsontwerp op diensbillikheid in die Staatskoerant gepubliseer. Dié wetsontwerp sal eersdaags in die Nasionale Vergadering bespreek word.

“Die wetsontwerp sal die Wet op Diensbillikheid wysig. Twee bepalings staan uit. Eerste is die sektorteikens vir regstellende aksie, wat sal beteken dat die minister bedrywe sal kan uitkies en numeriese teikens daarop kan afdwing.

“Verder word bepalings oor voldoeningsertifikate vir regstellende aksie bevestig en blykbaar in werking gestel. Sodanige sertifikate sal benodig word om sake met die staat te doen.

“Hierdie wetsvoorstel kom daarop neer dat die vorm van regstellende aksie nou selfs verder verskerp word. Wat dit egter skadeliker maak is die moontlikheid van regstreekse politieke inmenging by uitgesoekte bedrywe,” sê Van Onselen.

Sakeliga het vandeesweek sy lede versoek om restaurante in die Restaurant Association van Suid-Afrika (oftewel RASA) se demonstrasies Woensdag te ondersteun.

RASA se 1 Million Seats on the Streets-veldtog het behels dat restaurante en koffiewinkels landwyd protes teen die Covid-19-pandemie se afsonderingsmaatreëls aangeteken het deur hul tafels buite en selfs in strate te plaas.

Voorlopige syfers van Statistieke Suid-Afrika dui daarop dat dié bedryf se verkope van gemiddeld sowat R3 miljard per maand tot bykans nul in April geval het.

“Talle van dié ondernemings word steeds aan een van die strenger en langer uitgerekte Covid-19-inperkings ter wêreld onderwerp. Die aandklokreël en algehele verbod op drankverkope is veral skadelik vir restaurante en gasvryheidbedryf,” sê Van Onselen.

Sakeliga het sy lede aangemoedig om tydens die demonstrasies steun aan restaurante en koffiewinkels te wys deur kos of drankies by sulke ondernemings te koop. Verder kan foto’s met kommentaar oor die impak van die afsonderingsregulasies op sosiale media gedeel word.

Laastens gesels Van Onselen oor die reusewerksverliese tydens die inperking. ʼn Verslag, “Coronavirus Rapid Mobile Survey”, is onlangs bekendgemaak. Volgens berigte is dié verslag plaaslik die grootste nie-mediese peiling oor die impak van die inperking.

Die eerste data dui daarop dat omtrent drie miljoen mense hul werk tussen Februarie en April 2020 verloor het. Baie hiervan was armes.

Verder het ʼn bykomende sowat 1,5 miljoen mense hul inkomste weens tydelike afleggings verloor. Suid-Afrika het gewoonlik ʼn werksmag van omtrent 16,3 miljoen en groot getalle mense is dus geraak.

“ʼn Skokkende aantal deelnemers, byna soveel as 50%, het gerapporteer dat hul geld vir kos in April opgeraak het. Die data wys dat honger toegeneem het. Die bevindinge bevestig waaroor gewaarsku is: inperkings se hewige, selfs onaanvaarbare tol op kwesbare mense.

“Hoewel die ekonomie en sommige betrekkings nou tot ʼn sekere mate terugkeer, maak die afsonderingsmaatreëls wat steeds geld die herstel moeiliker.”

(Grafika: Sakeliga.)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JJ ·

Ek sal graag wil he dat ‘n ekonoom in eenvoudige terme die Totale Ekonomiese Impak van die finansiele en werksverliese navors en uiteensit. Ek onthou destyds het hulle gepraat in die filmbedryf dat vir elke R1 wat spandeer word , die R1 besteding soveel as 8 keer deur die ekonomie vloei. Sal dieselfde nou ook gese kan word van verlies aan inkomste, afdankings, afleggings ?

MAGRIETHA ·

Hoe gouer hierdie regering besef hy moet saam private sektore werk en na hul luister hoe gouer sal die land se ekonomie herstel en werkloos sal drasties verminder, dit het in die verlede so gewerk en werkloosheids syfers en crime was die minste ooit

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.