Luister in 3 minute: Pensioenfondse en ’n nuwe kredietwet

krediet-kredietkaarte-geld-bank

Foto: Stevepb/Pixabay.com

Gerhard van Onselen, senior ontleder by Sakeliga, gesels in vandeesweek se aflewering van 3 Minute, 3 Sake oor die ANC se uitlatings oor pensioenfondse, die Black Management Forum (BMF) se planne om te litigeer oor transformasie en pres. Cyril Ramaphosa se bekragtiging van ʼn nuwe kredietwet.

ANC en pensioenfondse

Enoch Godongwana, hoof van die ANC se subkomitee oor transformasie, het oor die naweek voorgestel dat geld in pensioenfondse, eerder as ʼn IMF-reddingsboei, ‘gebruik moet word’ om staatsondernemings te red.

Godongwane bevestig verder dat die ANC ‘voorgeskrewe bates’, oftewel dwangmaatreëls vir beleggings, oorweeg.

Klaarblyklik, in die ANC se oë, gaan geen inbreukmaking op private eiendom te ver nie. Voorstelle om pensioenfondse te dwing om in twyfelagtige regeringsprojekte te belê is net nog ʼn voorbeeld hiervan.

Sakeliga meen dat gedwonge beleggings in twyfelagtige regeringsprojekte kapitaalmarkte en die ekonomie duur te staan sal kom.

BMF se litigasiefonds

Die BMF het onlangs ʼn litigasiefonds gestig om maatskappye wat nie aan transformasie-wetgewing voldoen nie, voor die hof te sleep. Die organisasie wil glo intree waar maatskappye na hul mening transformasie ontspoor.

Sakeliga meen egter die litigasiefonds sal maklik in ʼn voertuig kan ontaard om die skroewe op maatskappye selektief aan te draai.

Die BMF gee natuurlik min oorweging aan die kritiek oor swart ekonomiese bemagtiging (SEB). Vaardigheidstekorte, rompslomp en emigrasie maak voldoening aan SEB ʼn uitdaging vir talle maatskappye. Dan word die ekonomiese geleentheidskoste van hierdie rasse-wette nooit in berekening gebring nie.

Uiteindelik sal sodanige litigasie die koste en risiko van ondernemerskap en indiensneming verhoog wat ekonomiese vooruitgang sal bemoeilik.
Die impak daarvan op ʼn verswakte ekonomie val natuurlik die hardste op die werkloses en die armes, waarvan die swart bevolking ʼn groot deel uitmaak.

Nuwe Nasionale Kredietwet

Die nuwe wysigings aan die Nasionale Kredietwet plaas krediet-verligting en selfs die afskryf van onversekerde skuld binne die bereik van verbruikers wat R7 500 of minder per maand verdien.

Die wysiging het uiteraard heelwat kritiek ontlok. Die banksektor het gewaarsku dat tot R20 miljard van hul skuldboeke op die spel is. Die wysiging verhoog natuurlik die risiko om geld uit te leen.

Die DA is bekommerd oor die aansporing van morele gevaar, waar verbruikers minder versigtig met skuld te werk sal gaan.

Ander ontleders reken dat hierdie wysiging toegang tot en koste van krediet vir verbruikers nadelig sal beïnvloed. So ʼn aanname word klaarblyklik ondersteun deur stappe wat Capitec Bank reeds gedoen het. Capitec voer aan dat hulle reeds in aanloop hul blootstelling aan verbruikers met ʼn inkomste van R7 500 of minder verklein het.

  • Luister na Van Onselen se volledige uiteensetting van dié sakekwessies boaan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Netwerkstig ·

In toekoms gaan dit voordelig wees om n netwerk te skep of by aan tesliut om enigsins n inkomste te verdien en tyd en moeite tot maksimum te benut. Ou beleggings werk net nie meer nie of jy moet al reeds ryk wees om te deel in die wins. Plus kunsmatig intelligensie is reeds hier

Johan Pretorius ·

Dit is baie tragies dat mense soos Godongwana in sulke gesagsposisies is. Sy opmerkings verdien nie aandag nie want dit is sotlike opmerkings.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.