Luister in 3 minute: Protes teen uitbreiding van TV-lisensies, minimumloon

(Foto: TLU SA/Facebook)

In vandeesweek se aflewering van 3 Minute, 3 Sake gesels Gerhard van Onselen, ʼn senior ontleder van Sakeliga, oor die groot protes teen die uitbreiding van televisielisensies. Akademici wat die “kos-stelsel” se verbruik skerper wil reguleer én die uitwerking van die minimuloon op die landboubedryf word ook bekyk.

Maroela Media het onlangs berig oor die DA se petisie teen planne om TV-lisensies op aanlyn dienste soos Netflix af te dwing.

Sakeliga het vantevore hierop kommentaar gelewer. Hierdie plan is luidens ʼn konsepbeleidsdokument van die departement van kommunikasie en digitale tegnologie.

Die DA noem hierdie plan, met reg, ʼn geheime reddingsboei vir die SAUK. Sodoende poog die departement om die beleërde SAUK sentraal te plaas ten koste van ander dienste en verbruikers.

Deel van die departement se kommer is skynbaar sogenaamde digitale skeiding tussen mense. Maar, indien tegnologie soos selfone vir die SAUK se onthalwe belas word, maak dit dan nie juis toegang tot tegnologie duurder vir almal nie. Veral vir die meer behoeftiges.

Die departement reken nie die uitwerking van bykomende belasting in nie. Verder is daar heelwat wantroue in die SAUK. Om dit so te probeer red gaan waarskynlik verdere reaksie ontlok.

ʼn Groep akademici van verskeie plaaslike universiteite het onlangs uitgevaar oor die “kos-stelsels” in Suider-Afrika-lande. Hulle meen dat sommige maatskappye uitsluitlik ongesonde “kitskos te aggressief” bemark.

Wat nodig is, meen die groep, is “doeltreffende staatsbeleid oor kos”. ʼn Mens kan nie help om te wonder hoe lyk hierdie soort beleid in hulle oë nie? Sal dit uiteindelik meer regeringsreëls, voorskrifte, beperkings, subsidies en belastings behels, waar regeringsdwang private lewenstylkeuses kwaaier voorskryf?

Sulke ingrypings by die mark is natuurlik nie ekonomies neutraal nie en bring ander probleme mee. Die toenemende aanslag van openbare gesondheid op verbruikers- en sakevryhede duur egter voort.

Sigarette en drank sien lank reeds belasting. Binnekort kan belasting en beperkinge op kitskos, vetterige kos, vleis en suiker (anders as koeldrank natuurlik) en ander produkte volg.

Deskundiges in openbare gesondheid beywer hulle gereeld vir groter staatsingryping. Maar lê die oplossing nie moontlik daarby dat mense self die koste moet dra vir hulle ongesonde lewenstylkeuses nie?

Daardie aansporings word wesenlik juis ongedaan gemaak wanneer sodanige koste deur openbare gesondheid se beleid gesosialiseer word.

En laastens, die onlangse verhogings van die nasionale minimumloon het hewige reaksie ontlok, veral in landbou.

TLU SA spreek veral sy kommer uit oor groenteproduksie. Groenteboere gebruik baie arbeiders. TLU SA vrees dat hierdie sektor kan omskakel na minder arbeidsintensiewe bedrywighede.

Hoekom maak dit saak? So ʼn omskakeling kom neer op ʼn “naasbeste” opsie in die mark, gemeet teenoor dit wat boere tans doen. Dit is dan waarskynlik minder ekonomies doeltreffend en raak uitset.

Selfs al sien Suid-Afrika dan ook nie dadelik werksverliese nie, kan daar ander ongesiene uitwerkings wees. Meer geld aan lone beteken minder geld vir ander sakebesluite soos uitbreiding, dividendebetalings en meer – wat ook nadelige uitwerkings vir toekomstige produksie en belegging kan inhou.

Om loonkoerse werklik te kan verhoog, is ʼn meer produktiewe ekonomie nodig. Dit is iets wat moet ontstaan in ʼn gesonde beleidsklimaat – dit kan ongelukkig nie met ʼn diktaat afgevaardig word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.