Luister in 3 minute: Regstellende aksie en ANC boos oor TEF-regsaksie

In die jongste episode van 3 Minute, 3 Sake bespreek Gerhard van Onselen, senior ontleder by Sakeliga, die wysigingswetsontwerp op billike indiensneming, die ANC wat kwaad is oor litigasie teen die Toerisme-ekwiteitsfonds (TEF) en die regering wat te kort skiet met impakstudies.

Regstellende aksie

ras-regstellende-aksie-race

Argieffoto

Eerstens kyk ons na regstellende aksie en spesifiek die wysigingswetsontwerp op billike indiensneming.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, het, onder meer, onlangs parlementêre kommentaar daarop gelewer.

Sou die plan vir rasseteikens vir sektors uitgevoer word, meen Le Roux, sal dit effektief daartoe lei dat miljoene mense sal moet migreer na gebiede waar hul ras sogenaamd “onderverteenwoordig” is.

Nie net is so ’n plan onwerkbaar en ekonomies skadelik nie, maar dit fokus te min op realiteite, soos gebrekkige openbare onderwys. Die ongelyke verspreiding van kwalifikasies lei juis deels daartoe lui dat vaardighede “ongelyk” versprei is. En beheer oor onderwys is mos ’n bevoegdheid wat die regering vir homself opgeëis het.

Toerisme-ekwiteitsfonds (TEF)

Solidariteit en AfriForum is besig om die TEF in die howe te pak. Die ANC het hierdie organisasies se regstappe teen die fonds as ’n oorlog teen transformasie beskryf.

Die fonds word uitsluitlik daargestel vir ondernemings in toerisme wat 51% of meer in swart besit is. Toerisme is dieselfde sektor wat die ANC-regering ten gronde gereguleer het met Covid-inperkings.

Die ANC het, luidens ’n verklaring, AfriForum daarvan beskuldig dat hulle die rassekaart speel en “progressiewe” ingrepe om ’n gelyker samelewing te skep, in die wiele wil ry.

Die ANC-regering is egter gewillig om, byvoorbeeld, progressief (en ongelyk) belasting by alle ondernemings en individue op te eis. Maar wanneer hulp beoog word, kan dit na goeddunke uitsluitend op grond van ras uitgedeel word.

Impakstudies

Ingevolge ’n kabinetsbesluit van so ver terug as 2007 moet alle nuwe wetgewing en regulasies aan sosio-ekonomiese impakstudies onderwerp word.

Sulke studies is veronderstel om die volledige koste en impak van regulasies en wette deeglik uiteen te sit. Daarvoor het die regering ’n impakstudie-eenheid verbonde aan die departement van beplanning, monitering en assessering.

’n Studie wat klaarblyklik in 2019 afgeteken is, is gekoppel aan die wysigingswetsontwerp op diensbillikheid. Hierdie impakstudie, na ons mening, is oppervlakkig en skiet te kort. In die studie word geen poging aangewend om die bykomende las van RA-toepassing op ondernemings behoorlik te skat nie.

Verder, die koste van voldoening en ontwrigting vanweë strenger regstellende aksie, word as onbeduidend afgemaak.

Dis nou ten spyte daarvan dat die regering se eie gids gehalte-ontledings vereis. Die gids self verg dat wetgewing wat ’n risiko loop om buitensporige koste op die ekonomie te hef (dink aan werkverliese en disinvestering) geïdentifiseer moet word.

Ons meen die voorgestelde EE-wetgewing hou sulke gevolge in wat nie behoorlik ontleed is nie.

Die publiek en ander ontleders word aangeraai om dieper na sulke studies betrokke by wetgewing te kyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Tanniepetoors ·

Baie moeilik om ENIGE logiese verklarings te gee vir 99,9% van regering se uitlatings. Die TEF-toekennings of -aanwysings gaan my klein verstandjie heeltemal te bowe. Net meer werkloosheid waarvoor ons, die wat nog kan en moet belasting betaal, SASSA-toelaes moet finansier. Ag, ons arme, arme “demokrasie”.

Adam Adriaan ·

Dit is kommunisme op sy beste. Dit sal nie gestop kan word voordat die kiesers in die land tot hulle sinne gebring word nie. Dit blyk baie onwaarskynlik te wees. So hef aan lê nog voor.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.