Luister in 3 minute: Reserwebank oorweeg e-rand

KwaZulu-Natal sê hy benodig sowat R1,5 miljard om skade aan openbare infrastruktuur te herstel. (Argieffoto: Phill Magakoe/AFP)

In vandeesweek se 3 Minute, 3 Sake bespreek Gerhard van Onselen van Sakeliga die onlangse onluste se skade by munisipaliteite, die Grondwetwysiging wat dalk gesink het en die Suid-Afrikaanse Reserwebank wat ʼn e-rand oorweeg.

Die onlangse onluste in KwaZulu-Natal en Gauteng het groot skade by munisipaliteite veroorsaak. Deel van die skade word nou gesien in waardasies op vaste eiendom.

Rapport berig dat tot 43 plaaslike munisipaliteite nou beskadigde eiendomme se waardasies laer sal moet hersien.

Een gevolg hiervan is verminderde inkomste vir rade uit eiendomsbelasting. Dit beteken bykomende druk op munisipaliteite se begrotings.

Waar verbande op sulke eiendomme geregistreer is, kan dit ook gevolge vir die banksektor inhou. Tot dusver is dit onduidelik wat die omvang hiervan kan wees.

Russell Lamberti, hoofekonoom verbonde aan Sakeliga, wys daarop dat die onluste blywende letsels op Suid-Afrika gelaat het. Lamberti is veral bekommerd dat plaaslike en buitelandse beleggers en sakelui se vertroue permanent geskaad is, veral in dele van KwaZulu-Natal. Hy verwag min herbelegging in streke wat veral geraak is.

Volgende: Business Day Live berig dat die omstrede wysiging van die eiendomklousule van die Grondwet (A25) moontlik gesink is. Die stryery tussen die EFF en ANC gaan oor wie uiteindelik onteiende bates sal beheer.

Is dit die einde? Sakeliga is nie so seker nie. Die prentjie word geskets dat die ANC nou alleen werk gaan maak van die wysiging, sonder die EFF se steun.

Tog is die huidige voorgestelde wysiging steeds een wat min of meer in die EFF se kraal val. Dit sal ons nie verbaas as die EFF uiteindelik tog ten gunste van die wysiging stem nie.

Baie sal natuurlik afhang van die politieke speletjies wat nou in aanloop tot die komende plaaslike verkiesing gespeel word.

Maar twee dinge is seker: die ANC is toegewyd aan ʼn beleid soos grondonteiening sonder vergoeding. Daar is verskeie maniere om te poog om dit te verwesenlik, wat die onteieningswetsontwerp insluit, en tweedens die EFF het verder heelwat rede om enige greep op die ANC te probeer gebruik vir eie gewin.

Die uiteinde is dat private besit van eiendom steeds in gevaar bly.

En laaste: Die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) beplan na berig word ʼn elektroniese rand, oftewel ʼn e-rand vir SA. Hierdie e-rand sal blykbaar in die kleinhandel aanvullend tot kontant gebruik word.

Die SARB is nie die enigste reserwebank wat so ʼn stap oorweeg nie. Soortgelyke planne word in verskeie lande waargeneem. In wese sal so ʼn geldeenheid slegs ʼn voortsetting wees van die rand met ʼn nuwer baadjie.

Sakeliga dink wel nie die SARB word tans swak bestuur teenoor sy eweknieë nie, maar ʼn digitale rand gaan nie die risiko’s van SARB-kaping en politieke druk op die verruiming van geldvoorraad verminder nie.

Tot dusver het die SARB wal gegooi teen sulke druk, maar hoe lank kan dit volgehou word as politieke druk groter en groter gaan raak?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.