Luister in 3 minute: SA beklee laagste posisies in mededingendheid

(Argieffoto: Unsplash)

Gerhard van Onselen, senior ontleder by Sakeliga, kyk in vandeesweek se 3 Minute, 3 Sake na die 200 afgestudeerde dokters wat nog nie in internskappe geplaas is nie. Hy bespreek ook probleme in die mynboubedryf en ʼn verslag oor internasionale mededingendheid waarin Suid-Afrika al hoe vrotter vaar.

Eerstens kyk ons weer na die mediese bedryf. Te midde van hospitale wat luidens berigte onder druk verkeer, sukkel heelparty nuwe dokters steeds om in internskappe geplaas te word. Internskappe word deur die regering bestuur.

Maroela Media het onlangs berig dat meer as 200 pas afgestudeerde dokters nie in internskappe geplaas is nie.

Dr. Angelique Coetzee, die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (SAMV, in Engels bekend as SAMA), wys daarop dat probleme met die plasing van dokters al jare voortduur. Die vereniging meen ʼn daadwerklike oplossing is nodig en beplan om druk op die departement van gesondheid te verhoog.

Is daar nie dalk ʼn meer belowende oplossing nie? Die vakbond Solidariteit meen dat private hospitale akkreditasie moet kry om dokters op te lei, wat inderdaad na ʼn sinvolle voorstel lyk.

Die staat beskik tans oor ʼn algehele monopolie op die opleiding van dokters. Dit is wel nie die geval in sommige mediese beroepe soos by aptekers en verpleegkundiges nie.

Die vraag is, hoekom kan dokters se opleiding nie ook in die private sektor gedoen word nie? Sodoende kan die sektor vinniger by toestande aanpas.

Vervolgens berig Moneyweb dat senior polisielede en sekere politici nou beskuldig word van minagting van die hof. Dit blyk uit hofaksie deur Nuco Chrome in Noordwes. Na berig word, het Nuco vantevore die hof genader oor vermeende onwettige besetting en chroom- en platinumerts wat glo in onwettige mynbedrywighede weggedra word.

ʼn DA-verklaring in Polity wys daarop dat Nuco ʼn hofbevel verkry het om onder meer onwettige betreders uit te sit en die wegdra van erts te verhoed.

Die SAPD word nou daarvan beskuldig dat hy nie ʼn onlangse hofbevel in dié verband toegepas het nie. Nuco vereis nou stappe teen onder andere die minister van polisie, die polisiekommissaris in Noordwes en ʼn stasiebevelvoerder.

Nuco sukkel al blykbaar ʼn geruime tyd om op die been te kom. Vermeende rompslomp met aansoeke by die departement van minerale hulpbronne en energie, asook hierdie uitdagings word as redes voorgehou.

Op die oog af lyk hierdie saak soos ʼn goeie voorbeeld van die eiendomsonsekerheid wat talle ondernemings beleef. Sulke onsekerheid is nie sonder verliese vir die ekonomie nie en blyk prominent in die mynbou.

Suid-Afrika is onlangs ʼn posisie in die vrotste 10 plekke in ʼn opname oor mededingendheid aangewys. Dit is volgens die Instituut vir Bestuursontwikkeling (IMD), ʼn Switserse sakeskool, se verslag oor mededingendheid wêreldwyd. Suid-Afrika het oor tyd heen gedaal van 48ste plek tot by 62ste plek uit 64 op hierdie rangorde van mededinging.

Die vernaamste redes vir die daling in 2020: ʼn groot daling in bruto binnelandse produk (BBP), ʼn groot daling in vaste kapitaalgroei, swakker BBP per capita, swak groei in die arbeidsmark en swak groei in indiensneming.

Wat beskou sakelui as ligpunte? ʼn Doeltreffende regsomgewing (65% van respondente), oop en positiewe gesindhede (53%), asook die gehalte van korporatiewe bestuur (51%).

Uit 15 sleutel-aanwysers het die “bekwaamheid van regering” die swakste presteer; slegs 3,9% van respondente het die opsie gekies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.