In vandeesweek se 3 Minute, 3 Sake plaas Gerhard van Onselen, senior ontleder by Sakeliga sy kollig op Suid-Afrikaanse Brouerye (SAB) se onttrekking van beleggings uit die land, Pick n Pay wat praat oor die impak van die afsonderingsmaatreëls en Sakeliga se versoek vir verdere inligting oor die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) se verslag oor rokers.
SAB en Heineken Suid-Afrika het vroeër die week aangekondig dat dié maatskappye saam sowat R8 miljard se plaaslike belegging laat vaar. Die vervaardigers het aangedui dat hulle nie meer kan uitbrei soos beplan nie en het gesê die drankverbod is besig om hulle lam te lê.
“Die besluit om die beleggings te onttrek word regstreeks en openlik voor die voete van die regering se algehele drankverbod gelê.
“So sien ons dan ook hoe die onverantwoordelike en eensydige inperkingsmaatreëls ʼn regstreekse aanval op die ekonomie se produktiewe kapitaal is,” sê Van Onselen.
Heineken het ʼn beoogde brouery in KwaZulu-Natal van sowat R6 miljard gekanselleer. Dit sou 400 werksgeleenthede geskep het.
“Dit is gewoonlik so dat kapitaal by die deur uitsluip, maar hier sien ons dit meer openlik gebeur. Die grootste skade aan die ekonomie is belegging en rykdom wat nie geskep is nie. En swak beleidsbesluite het ons al duur te staan gekom.”
Nog ʼn slagoffer van die afsonderingmaatreëls is Pick n Pay. Dié winkelgroep het aangekondig dat sy wins sowat 50% minder sal wees in die halfjaar tot einde Augustus. Daarby is ʼn program vir vrywillige aflegging begin wat sowat 1 400 werksgeleenthede op die spel sal plaas.
“Pick n Pay se geval wys weer eens dat ʼn mens nie in die ekonomie tussen essensiële en nie-essensiële produkte kan onderskei nie. Tabak en wyn-verkope is ʼn essensiële bron van die groep se inkomste. Sonder daardie inkomste ly winsgewendheid skade en dit het gevolge soos afleggings,” sê Van Onselen.
Gareth Ackerman, voorsitter van Pick n Pay, het die verbod op drank- en tabakverkope as verwarrend en teenstrydig beskryf. Ackerman het hierdie boodskap Dinsdag op die groep se jaarvergadering aan beleggers gegee. Hy wys daarop dat die regering gereeld noem dat hulle met die publiek konsulteer, maar dit is eintlik nie die geval nie. Die gevolg meen hy, is sinisme en verdeeldheid.
Laaste gesels Van Onselen oor Sakeliga se toegang tot die inligting-aansoek aan die RGN.
Sakeliga het vandeesweek verdere inligting versoek oor die RGN se navorsing in April oor die voldoening aan inperkingsregulasies.
In die resultate wat in ʼn voorlegging voorgehou is, meen die RGN dat slegs 12% van rokers met die eerste fase van die afsondering sigarette kon koop.
Hierdie inligting is klaarblyklik teenstrydig met ander navorsingstudies, soos by die Universiteit van Kaapstad, wat daarop dui dat omtrent 90% van rokers steeds sigarette kon bekom.
“Aangesien hierdie navorsing van die RGN in hofsake deur die regering gebruik word om die tabakverbod te regverdig, is meer inligting aangevra. Ons hoop om die vraelys en metodiek na te gaan en met ander studies te vergelyk. Ons hou die publiek op hoogte hiervan.”
Jammer om te “hoor” (lees). Spreekwoordelik ook No worries: Weens die feit dat alles ten gronde gaan, kan mense wat nie werk nie, nie meer kos koop nie en is daar gelukkig goedkoper bier op die mark beskikbaar, anders koop ons maar minder vleis. Lw: Eersdaags kan jy nie meer stop vir ‘n dop na die “job” nie (0.000) toleransie)).
En so verarm ons land net nog verder. Ek vermoed daar sal nog vele ontrekkings van buitelandsebeleggers volg. Wie wil in hierdie ekonomie belê