Luister in 3 minute: Sakekamer meen kragskepe kan help; middelklas onder druk  

Karpowership se skeepswerf in Yalova, Turkye. (Foto: Ozan KOSE/AFP)

In vandeesweek se 3 Minute, 3 Sake kom die Turkse kragskepe weer onder die loep. Die Suid-Afrikaanse middelklas ervaar groot finansiële druk, en laastens, die ekonoom Russell Lamberti sluit by Sakeliga aan.

Die Oos-Kaapse maritieme sakekamer (ECMBC) en die sakekamer vir swart ondernemings (Nafcoc) gaan saam met Karpowership appelleer teen die departement van bosbou, visserye en omgewingsake se besluit om die omstrede kragskepe af te keur.

Hierdie sakekamers is van mening dat Karpowership goed geposisioneer is om omgewingsbesware op te los. Hulle meen ook dat heelwat plekke, veral in die Weste, van sulke skepe gebruik maak. Hoekom moet Suid-Afrika dan uitgesluit word?

Sakeliga is ook van mening dat goedkeuring met voorwaardes oorweeg kan word, en nie bloot geweier hoef te word nie.

Die feit van die saak is egter dat Suid-Afrika elektrisiteit nodig het; veral elektrisiteit wat met verhoogde aanvraag aangesit kan word.

Kommer oor die omgewing is geldig, maar dit is sekerlik moontlik om die impak te bestuur sonder algehele weiering. In elk geval sal behoorlike opwegings gedoen moet word.

Die publikasie Businesstech meen die land se middelklas verkeer onder groot druk.

Data van Transaction Capital word voorgehou, wat waarsku dat Covid-19 en die swakker ekonomie geweldige druk op die middelklas plaas.

Agterstallige verbruikerskuld styg steeds en in 2020 was dit reeds soveel as R33 miljard. Daarby is 38% van verbruikerslenings nie in goeie stand met hul kredietverskaffers nie.

En laaste ʼn bietjie goeie nuus. Die vooraanstaande ekonoom Russell Lamberti het by Sakeliga aangesluit. Lamberti sluit aan in die kapasiteit as hoofekonoom en sal Sakeliga se beleid- en ontledingsfunksie lei.

Lamberti meen dat Suid-Afrika ʼn punt van ʼn potensiële ware krisis nader. Hy wil skouer aan die wiel sit om te help om die gety te draai, en meen dat as genoeg mense saamwerk kan ons ʼn kans hê om dinge om te draai.

Lamberti se insig oor die ekonomie, politieke ekonomie en gemeenskappe se rol in ʼn esonde samelewing gaan beslis ʼn aanwins vir Sakeliga wees.

Ons sien elke dag in Suid-Afrika hoe verskillende opvattings oor herstel afspeel. Selfs met voormalige pres. Jacob Zuma in die tronk bly die vraag of dit genoeg is vir ʼn algehele positiewe ommeswaai?

Sakeliga vra eerder wat is die regte medisyne vir ware herstel? Lê dit in ʼn beter ANC of in sterk, onafhanklike gemeenskappe? Dié organisasie glo die oplossing lê in ʼn sterk mate van staatsbestandheid.

Suid-Afrika en sy sakeondernemings moet floreer ongeag die ideologie en doktrine van die politiek van die dag. ʼn Goeie beleidsomgewing is ʼn aanwins vir almal en daarmee kan politici help. As ons dit nie kan kry nie, kan ons nie onsself daaraan laat uitlewer nie.

Luister gerus hier na ʼn podsending van ʼn gesprek met Lamberti as lid van Sakeliga.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Piet parys ·

Mense betaal nie eskom nie en waar sal die geld vandaan kom vir die skepe . Belasting heffings. Maw die ou wat alreeds betaal moet maar vir die soweto.s wat weier om betaal.weereens opdok .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.