Luister in 3 minute: Sakeliga kritiseer nuwe inperkingsregulasies

Nkosazana Dlamini-Zuma, die minister van samewerkende regering en tradisionele sake (Foto: National Cogta/Twitter)

In die jongste weergawe van 3 Minute, 3 Sake bespreek Gerhard van Onselen, ʼn ontleder verbonde aan Sakeliga, die staat se vlak 4 van inperking, die Covid-19-skema wat nie volle salarisse betaal nie en kyk krities na nuwe inperkingsregulasies.

Pres. Cyril Ramaphosa het verlede week wysiging aan die afgedwonge inperkingstyd aangekondig; dit is nou die 5-vlakplan ná 1 Mei.  Die nuwe kontroles is ʼn poging om deur ʼn bo-na-onder-bevelplan die ekonomie tydens Covid-19 te bestuur.

Sakeliga het die regering se nuwe plan bevraagteken en ondersteun die gedagte dat slegs riskante bedrywighede beperk moet word. Die Buro vir Ekonomiese Ondersoek bevraagteken ook die praktiese werkbaarheid van die nuwe grendelplan.

Die plan voorsien byvoorbeeld dat slegs 20% herindiensneming by sommige bedrywe in vlak 4 mag plaasvind. Sommige vervaardigingsprosesse kan nie met slegs 20% voortgaan nie, meen die Buro.

Verder sal die bykomende koste van siekte-evaluering en ander maatreëls noodwendig ondernemings se koste verhoog. Gevolglik sal sommige ondernemings nie kan bekostig om oop te maak nie.

Luidens mediaberigte het baie mense met ʼn skok besef dat die tydelike Covid-19-voordeel (Covid-19-TERS) van die werkloosheidsversekeringfonds (WVF) minder betaal het as wat verwag is.

Volgens die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters (Saica) het heelwat mense die voordeel misverstaan. Die skema gaan nie presies uitbetaal wat ʼn werknemer voor Covid-19 verdien het nie.

Iemand wat byvoorbeeld R6 000 per maand verdien het, sal nie die volle bedrag terugkry nadat toepaslike berekeninge gedoen is nie. Die WVF sal slegs tot sowat R4 000 vir ʼn R6 000-salaris uitbetaal. Verliese aan inkomste is aan die orde van die dag.

Sakeliga meen meer redelike inperkingsreëls is die beste hulp wat die regering kan bied, dit gee groter vryheid om inkomste in die mark te kan verdien.

Dié organisasie het oor die langnaweek kommentaar ingedien op die 5-vlak-inperkingmodel. Sakeliga is van mening dat die regering die Sirakuse-beginsels moet toepas met die hersiening van die ramptoestandregulasies. Die Sirakuse-beginsels vloei vanuit ʼn internasionale verbond oor burgerlike en politieke regte. Dit is ’n internasionaal gerespekteerde riglyn oor nood- en ramptoestandregulasies.

Gemeet aan die Sirakuse-beginsels toon die reguleringsbenadering tot die ramptoestand tans verskeie ernstige tekortkominge in twee opsigte: Enige beperking van regte moet volgens duidelike, toeganklike, voorspelbare en verstaanbare regsvoorskrifte opgestel word. Beperkinge moet beperk word tot dit wat streng noodsaaklik is om die ramptoestand op te los.

Sakeliga steun ’n benadering tot ’n reguleringsraamwerk wat met die Sirakuse-beginsels versoenbaar is. So ’n raamwerk is voorgestel in kommentaar aan dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, die minister van samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede.

  • Luister na Van Onselen se volledige uiteensetting van hierdie drie sakekwessies boaan die berig.
  • Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Die Wolf ·

Ek dink nie sy weet wat sirakuse beginsels is nie. Ek vermoed dat hulle dit verwar met covid.

marius ·

Waarom sal hulle bekommerd wees oor ander se finansiele verknorsing ? Solank hulle vet salarisse , pensioen , medies , voertuig toelae , byvoordele en buffet etes elke maand betaal word is hulle so gelukkig soos ‘n muis in ‘n kaas fabriek .

mattk ·

Op 71 jarige ouderdom moes sy lankal op pensioen gewees het. Sy is onkundig en behoort nie meer in die posisie te wees nie. Al die ou hout, daar is so ongeveer 6 van hulle in hul sewentigs en omtrent geen lid (ministers) onder sestig in die parlement nie. Hul is nie op hoogte van nuutste tegnologie of trends nie en daarom maak hulle die mees onbenulligste besluite…. wil graag die wêreld daar buite beindruk, maar hul eie mense moet daaronder lei.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.