Luister in 3 minute: Sakeliga wen in hof oor SEB

piet-le-roux

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga. (Foto: Morné Prinsloo)

Gerhard van Onselen, ʼn senior ontleder by Sakeliga, is terug in vandeesweek se aflewering van 3 Minute, 3 Sake waar hy drie van die grootste sakekwessies bespreek.

Eerstens kom Sakeliga se hofoorwinning teen die toepassing van swart ekonomiese bemagtiging (SEB) met vooraf-diskwalifikasievereistes vir bespreking aan die beurt.

Die hoogste hof van appèl het met koste in die guns van Sakeliga bevind.

“Daar is bevind dat die voorkeurverkrygingsregulasies van 2017 strydig is met die Wet op die Raamwerk vir Voorkeurverkrygingsbeleid (wet 5 van 2000) en die Grondwet.

“Die groot kwessie is natuurlik die toepassing van vooraf-diskwalifikasievereistes by tenders met staatsorgane. Daarvolgens kon maatskappye wat onvoldoende, volgens beleid, (51% of meer) in swart besit was van tenders uitgeskakel word.

“Die betrokke regulasie is gevolglik ongeldig verklaar,” sê Van Onselen.

Volgens Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, is die uitspraak van groot belang.

Sakeliga meen tenders behoort beoordeel te word op grond van die waarde wat dit vir die publiek bied in plaas van volgens ras en ander politieke oorwegings.

Die minister van finansies, Tito Mboweni, word nou 12 maande gegun om die regulasies te wysig. Daar mag ook nog teen die uitspraak geappelleer word.

Volgende kyk Van Onselen na Mboweni se 2020-mediumtermynbegrotingstoespraak wat verlede week gelewer is.

“Die begroting, op die keper beskou, was teleurstellend.

“Die tekorte wat voorsien word, skiet steeds die hoogtes in en nodige beleidshervorming is onseker. Sommige ontleders, ook Sakeliga, is van mening dat die reeds kommerwekkende syfers in die begroting steeds oor-optimisties is,” sê Van Onselen.

Hy sê verder dit is belangrik om in gedagte te hou dat daar vir die 2020- fiskale jaar ʼn tekort van R331 miljard begroot is, vir 2021 klim dit tot ʼn yslike R731 miljard. Vir 2022 tot 2024 (fiskale jare) bly die tekort gemiddeld bo R430 miljard per jaar. Meer as 7% van BBP.

“Selfs die enorme tekorte, en dat hulle nie vererger nie, hang hoofsaaklik af van suksesvolle begrote besnoeiings aan die regering se betaalstaat. Dit sal sterk politieke wil verg. Vakbonde wys reeds dat so ʼn besluit sterk teëgestaan sal word terwyl die fiskale druk van so ʼn aard is dat skuld en valuta-krisisse op die horison is.”

Laastens sê Van Onselen van die partye wat blykbaar min vertroue in die nuwe begroting het, is die kredietgradeerder Moody’s.

Moody’s was in die verlede meer optimisties as die ander gradeerders oor Suid-Afrika se vooruitsigte.

Die agentskap reken egter ook dat onderhandelinge oor die staat se betaalstaat moeilik sal wees.

Verder sê die gradeerder dat die begroting min besonderhede lewer oor die sogenaamde “strukturele hervormings” wat die ekonomie moet laat groei.

“Hy voorsien ʼn trae ekonomie, stadige fiskale konsolidasie en volgehoue toename in skuld. Verdere skuldafgraderings, wys ander mediaberigte, is ook ʼn moontlikheid.”

Sakeliga meen uiteindelik moet besteding en ekonomiese inmenging verminder word. Veel groter vryheid moet aan die private sektor en gemeenskappe oorgelaat word, terwyl beleid minder mag en sentralistiese diskresie aan regeringsamptenare moet bemaak.

“Sover is dit nie wat ons tans sien nie; eerder twyfelagtige planne om besteding om die rante te snoei, waar veel meer drastiese besnoeiings en werklike hervorming nodig is,” sluit Van Onselen af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Chris ·

Dit is goeie nuus. Wat my egter nog steeds in die duioster laat is, wat nou. Wat gaan nou gebeur. Gaan die vereistes nou skielik wegval of op ‘n ander manier toegepas word. Ons wittes kan niks daaromtrent doen nie al wil ons. Die persoon wat oor die tender toekenning moet besluit sal dit nie sommer gelate aanvaar of toepas nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.