Luister in 3 minute: Skok oor BBP en planne vir openbare besteding

konstruksie-bou-boubedryf-siviele-01

Foto: Jacek Dylag/Unsplash.com

Vir vandag se drie sake in die jongste aflewering van 3 Minute, 3 Sake, kyk Gerhard van Onselen van Sakeliga na die skok oor die BBP, openbare bestedingsplanne, en laastens Okosa wat SEB-kodes wil verskerp.

Volgens Statistieke Suid-Afrika het die bruto binnelandse produk (BBP) in die tweede kwartaal van 2020 met sowat 16% van kwartaal tot kwartaal getuimel. ʼn Daling van meer as 50% volgens die amptelike geannualiseerde koers.

“Sulke syfers, vir baie ʼn skok, was wel te wagte en volgens Sakeliga ʼn mensegemaakte ramp. Weens Covid-19 self sou daar moontlik ʼn swakker ekonomie gewees het, maar oordadige en irrasionele inperkings het dinge met veelvoud vererger.

“Dit het die ergste produksie-ineenstorting in Suid-Afrika nog ooit veroorsaak. Verder het groot inmenging by die toedeling van hulpbronne plaasgevind, wat nou omgekeer moet word,” het hy gesê.

Van Onselen meen om verbete aan verkeerde aannames oor die gesondheidsimpak van Covid-19 te kleef, selfs soos nuwe inligting na vore gekom het, is een ding. “Sakeliga glo die roekelose intensiteit, irrasionaliteit en skadelike verlenging van die grendelstaat is egter onverskoonbaar.”

Volgende kyk Van Onselen na die regering se herstelplanne. Deel van die plan is natuurlik daardie liefling van politici genaamd openbare infrastruktuurinvestering.

In ʼn onlangse parlementêre voorlegging word “Suid-Afrika se infrastruktuurinvesteringsplan” uiteengesit. Die veronderstelling is dat groot onderbesteding deur openbare instellings lei tot goed soos werksverliese. Dit kan dan weer reggestel word deur meer op openbare infrastruktuur te bestee, reken die voorlegging. Die veronderstelling is verder dat regeringsbesteding die ekonomie aan die gang sal kry.

“Daarby ingebou is die gedagtes van (rasse-) “transformasie”, “ruimtelike geregtigheid” en die “groen ekonomie”. Basies gestel, dit is ʼn sentrale bestedingsplan, waar politici, nie markaansporings nie, hulpbronne toeken.

“Sodanige besteding sal steeds plaasvind binne die raamwerk van swart ekonomiese bemagtiging (SEB), staatsverkryging en politieke bestedingsplanne – met ander woorde baie volgens dieselfde resep as vantevore.”

Sakeliga meen dit is egter die raamwerk van ekonomiese oorregulering en inmenging wat omgekeer moet word, sodat gesonde vrywillige investering kan plaasvind.

Laaste gesels Van Onselen oor die Onafhanklike Kommunikasieowerheid van Suid-Afrika (Okosa) se beoogde verskerpte SEB-kodes op die inligtingstegnologie‑ en kommunikasiebedryf.

“Wat word voorgestel? Onder meer ʼn vereiste van 30% swart eienaarskap binne 24 maande van promulgering. Verder dat boetes van tot R5 miljoen – of volgens omset – op lisensiehouers ingestel kan word wat nie aan vereistes voldoen nie.

“Soos ons reeds weet, die ANC-regering het uit die staanspoor besluit om in te meng: ondernemings moet ‘reg’ vertoon in die oë van beleidsmakers.

“Maar die gevolg, duur vereistes vir ondernemings, wat beskikbare dienste en koste beïnvloed. Internetdiensverskaffers meen reeds luidens mediaberigte dat die nuwe vereistes dienslewering en produkte nadelig gaan beïnvloed,” het Van Onselen bygevoeg.

Sakeliga meen nog altyd hoe moeiliker dit is om ʼn onderneming te bedryf, hoe hoër is die koste vir die verbruiker. “Daar is natuurlik ʼn ander keuse op die tafel: meng minder in en laat die mark toe om beter en goedkoper dienste aan meer mense te voorsien. Dit is egter duidelik dat die roete van politieke toedeling steeds gekies word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kobus ·

ANC gemaakte ramp.
Ons kan van net een ding seker wees en dit is dat die ANC altyd die verkeerde besluit sal neem.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.