Luister in 3 minute: Skokkende daling in sakevertroue

belasting-ekonomiese-druk-stevepb-pixabay

Foto: Stevepb/Pixabay.com

Gerhard van Onselen, senior ontleder by Sakeliga, gesels in vandeesweek se 3 Minute, 3 Sake oor ʼn kommerwekkende daling in sakevertroue, Solidariteit wat rassewette pak en ʼn impakstudie oor die nuwe Kredietwet.

Die Buro vir Ekonomiese Ondersoek en Rand Merchant Bank het verlede week die RMB/BEO- sakevertroue-indeks uitgereik. Die indeks dui op ʼn erge daling in sakevertroue in die derde kwartaal van 2019.

Die indeks bestaan uit ʼn aantal sub-indekse en al die sub-indekse was onder 30 in die derde kwartaal. ʼn Bevinding wat Etienne le Roux, ekonoom by RMB, as skokkend beskryf. Daar word ook daarop gewys dat vertroue nou laer is tydens die ekonomiese krisisse van die laat 90’s en 2000’s.

Die lae metings van sakevertroue benadruk beslis die noodsaak vir positiewe hervorming. Volgens Le Roux is tyd nie aan Suid-Afrika se kant nie, veral nou dat die land die wind van voor van die globale ekonomie kan kry.

Wat nodig is, is ʼn wegdoen met rompslomp, beleid wat sake onnodiglik bemoei en ʼn afdek van beleidsuitsprake, soos oor grondonteiening sonder vergoeding en die planne vir ʼn nasionale gesondheidversekering, wat die land eenvoudig nie kan bekostig nie.

Die vakbond Solidariteit sal hierdie week die howe nader om aanbevelings wat die Menseregtekommissie (MRK) oor die Wet op Gelyke Indiensneming gemaak het op die regering af te dwing.

Dit volg op gebeure in 2016 waar Solidariteit ʼn voorlegging by ʼn Verenigde Nasies-komitee gemaak het. Die uiteinde was aanbevelings deur die MRK wat neerkom op ʼn toepassing waar meer as net ras in berekening gebring word by aanstellings.

Die aanbevelings sluit in dat behoeftes en maatskaplike-ekonomiese faktore ook moet tel wanneer regstellende aksie toegepas word. Verder word die definisie van “aangewese groepe” in wetgewing as ongrondwetlik en buite orde met internasionale reg bestempel.

Sakeliga meen die uitsluitlike numeriese rassetelbenadering tot regstellende aksie tans is ʼn wesenlike rem op die ekonomiese bedrywighede en bemoeilik aanstellings deur rompslomp. Enige stappe om regstellende aksie meer redelik te kry is ʼn stap in die regte rigting.

Waar regstelling eerder moet plaasvind is by die klaaglike mislukking van die openbare onderwysstelsel.

Sakeliga het vantevore oor die onlangse wysiging van die Nasionale Kredietwet gesels. Hierdie wysiging is in Augustus 2019 deur president Ramaphosa tot wet bekragtig.

Die wysigings beteken dat heelwat verbruikers, diegene wat minder as R7 500 per maand verdien, moontlik vir skuldverligting kan kwalifiseer – sodanige ingryping gaan uiteraard voorsiening in die krediet-mark beïnvloed.

Volgens die Rapport het die portefeulje komitee vir handel en nywerheid nou eers, in September 2019, die maatskaplike-ekonomiese impakstudie oor die wetswysiging gesien. Sodanige studies word nou deur die tesourie vereis. Klaarblyklik in hierdie geval die wa voor die perde ingespan.

Dié impak-studie, wat deur Genesis Analytics, onderneem is, meen dat die wetswysiging ʼn netto negatiewe uitwerking sal hê. Dit kan byvoorbeeld veroorsaak dat die koste van formele krediet sal toeneem en dat arm mense na informele skuldeisers gedryf sal word.

Uiteindelik is hierdie in plek gesit nog lank voor die impakstudie onderneem is. Dit is ʼn lukraak benadering tot wette maak wat ʼn groot ekonomiese impak kan hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

chrisjan ·

Pryse van goedere word elke keer verhoog wanneer branstsof pryse styg maar NOOIT verlaag as die brandstof prys verlaag word nie.Dit het tot gevolg dat goedere se pryse myle te hoog is en maak dat ek en my vrou ons aankope drasties ingeperk het en dit so sal hou totdat winkeliers hul pryse afwaarts aanpas.Ons hou eenvoudig ons geld in ons sakke!

Melanie ·

Chrisjan ek is bly daar is darem nog iemand wat soos ek dink. Hoe hoër die petrolprys, hoe vinniger jaag die bestuurders. Ek kan dit eenvoudig nie verstaan nie.

chrisjan ·

Melanie jys reg!Dis verstommend om te ervaar.Maar ek lag breed elke keer as ‘n motoris by my verby snel want ek WEET dit raak sy sak ordentlik.Ek het net deur rustiger te bestuur en verbysteke deeglik te beplan en uit tevoer sonder dat ek moet voet neersit my 18 jaar oue dubbel kajuit Isuzu se diesel verbruik van 13 tot 16 km/liter verlaag en dis gebaseer op berekenings van een vol tenk na die volgende en nie skattings nie!So ek betaal dan ook MINDER brandstof belasting aan die regering!

Attie. ·

Rompslomp sal ons land nog op sie kniee bring. Ek wag al 2 maande vir n wapenlisensie en weet nie hoe lank nog nie. Hoe groot storie kan dit wees om ‘n wapenlisensie uit te reik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.