Luister in 3 minute: Skuiwe in kabinet; nuwe belasting wink vir emigrante

(Foto: Stevepb/Pixabay)

In die jongste aflewering van 3 Minute, 3 Sake bespreek Gerhard van Onselen van Sakeliga die skuiwe in pres. Cyril Ramaphosa se kabinet, ʼn moontlik nuwe belasting vir emigrante en die regering se planne vir talle nuwe staatsprojekte.

Ramaphosa het sy kabinet oor die naweek geskommel. Tito Mboweni, minister van finansies, se versoek om uit sy pos verskoon te word, is aanvaar. In sy plek is Enoch Godongwana (64), die voorsitter van die ANC se ekonomiese komitee, aangestel.

Godongwana het sy loopbaan in die vakbondwese begin. Hy het vroeër vanjaar kommer uitgespreek oor die krimpende belastingbasis. Hy bly egter ook ʼn voorstander vir beleidstellings soos “openbare belegging” in “sosiale infrastruktuur”, oftewel staatsgeleide ontwikkeling.

Die nuwe minster van finansies het vantevore veranderinge aan regulasie 28 van die Wet op Pensioenfondse voorgestel, wat bepaal dat aftreegeld in openbare infrastruktuur belê kan word. Dit word as ʼn omstrede besluit beskou.

In wese dink Sakeliga nie dat Godongwana se aanstelling ʼn koersverandering vir ANC-beleid beteken nie. Tog behoort die werklikhede van die fiskus die mees uitspattige beleidsimpulse van die regering te temper.

Sommige kritici meen dat Ramaphosa ʼn geleentheid misgeloop het om die kabinet te verklein. Kommer is uitgespreek oor sommige aanstellings.

Nosiviwe Mapisa-Nqakula, eens minister van verdediging en veterane, beklee nou die pos van speaker.

Sy was in konflik met Ramaphosa tydens die onlangse onluste. Haar aanstelling, meen sommige, dui daarop dat interne struwelinge in die ANC nog lank nie verby is nie.

Zweli Mkhize, die voormalige minister van gesondheid, het onder ʼn wolk bedank.

Volgende: Rapport berig dat die regering nog ʼn nuwe belasting oorweeg vir diegene wat die land verlaat.

ʼn Sogenaamde uitgangsbelasting word nou oorweeg. Dit word voorgestel in wysigings tot die belastingwet, “benewens” ander belasting waarvoor individue reeds aanspreeklik is.

Die voorstel volg op ander voorstelle, soos dat toegang tot aftreegeld eers ná drie jaar in sekere gevalle verkry mag word.

Die nuwe belasting sal toegepas word wanneer status as ʼn belasbare inwoner tot ʼn einde kom.

Hierdie stappe sal finansiële emigrasie bemoeilik, maar ook spaarbesluite beïnvloed. Sakeliga kan nie finansiële raad gee nie, maar die implikasies moet versigtig met behulp van deskundige raadgewers oorweeg word.

En laastens is daar groot staatsprojekte in die vooruitsig. Rapport berig dat die regering die eerste keer sedert 2012 meer nuwe kapitaalprojekte as die private sektor aangekondig het.

Sakeliga meen dít is eintlik tekenend van ʼn belemmerde ekonomie. Maatskappye is huiwerig om uit te brei weens groot onsekerheid.

Die feit dat die regering beplan om soveel hulpbronne te bestee is nie noodwendig goed nie. Dit is goed as hulpbronne met behoorlike markaansporings bestee word. Die waarde van openbare besteding word gereeld in Suid-Afrika in twyfel getrek.

Staatsbesteding lei maklik tot verkwisting. Die regering bie saam in markte vir hulpbronne wat prysaanpassing en allerlei funksies in die ekonomie beïnvloed.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.