Luister in 3 minute: Staatsamptenare kry nog salarisse vir minder werk

belasting-ekonomiese-druk-stevepb-pixabay

Foto: Stevepb/Pixabay.com

In die jongste 3 Minute, 3 Sake bespreek Gerhard van Onselen, senior ontleder by Sakeliga, ʼn peiling wat sakelui se bereidwilligheid om belasting te betaal, ontleed.

Hy kyk na staatsamptenare, wat anders as in die private sektor nou minder werk gedurende die afsondering, maar steeds hulle volle salarisse ontvang. Hy bespreek ook munisipale finansies.

“Die jongste Sakeliga-peiling toon ʼn inploffing in sakelui se bereidwilligheid om belasting te betaal, danksy die staat van inperking en korrupsie.

“Altesaam 95% van respondente in Sakeliga se e-pos-peiling meen dat die staat van inperking hul bereidwilligheid om belasting te betaal, verminder het. Daarby het nege uit tien ʼn geneigdheid aangedui om hul belastingbetalings so lank as wettig moontlik uit te stel,” sê Van Onselen.

Die peiling wys dat selfs ses uit tien respondente dit sou oorweeg om hul belasting onwettig te weerhou indien dit die inperkingsmaatreëls sou stopsit. “Dit word natuurlik nie aangeraai nie, maar dit toon wel dat sentiment oor belasting nou uitsonderlik negatief is.”

Voorlopige tesouriesyfers dui daarop dat belastinginvordering reeds aan’t verswak is.

Piet le Roux, Sakeliga se uitvoerende hoof, meen dat ʼn nuwe normaal vir belastingbereidwilligheid baie laer as vantevore sal wees. Gegewe die “grendelstaat”, korrupsie, wanbestuur en skadelike regeringsbeleid oor die algemeen is die perfekte storm op die belastingfront geskep.

“Sakeliga raai die regering, sakelui en ontleders aan om vir laer belastingbereidwilligheid in begrotingsprojeksies voorsiening te maak,” voeg Van Onselen by.

Asof dit sakelui se sentiment wil benadruk, toon ʼn antwoord op ʼn parlementêre vraag daarop dat duisende amptenare in die staatsdiens minder tydens die staat van inperking gewerk het, maar steeds volle salarisse ontvang het. Dit was natuurlik nie die geval in die private sektor nie.

“Vergelyk byvoorbeeld Sakeliga se peiling wat wys dat sowat 61% uit 883 respondente se ondernemings groot verliese weens die inperkingsmaatreëls gely het. Amper ses uit tien van die respondente het volgens terugvoer 50% of meer van hul gereelde persoonlike inkomste verloor.

“Dit stel ʼn ernstige vraag oor die regverdigheid waarmee die staat van inperking gehanteer is. Heelwat ondernemings en mense is met regstreekse regeringsdwang daarvan verhoed om inkomste te kan verdien. Daarteenoor het die staatsdiens klaarblyklik geen verliese gely nie.”

Laastens kyk Van Onselen na munisipale finansies. Luidens ʼn indeks wat deur Ratings Afrika saamgestel word, word punte uit 100 per metro en kleiner munisipaliteite saamgestel. Dié indeks meet finansiële volhoubaarheid van munisipaliteite.

“Volgens hierdie indeks het slegs 19 uit 100 van die kleiner munisipaliteite ʼn bedryfswins in 2019 getoon. Dit was 23 in 2018. Verder dui die indeks daarop dat volhoubaarheid in die groot metro’s verder verswak het.

“Weereens sien ons die Wes-Kaap het die beste presteer uit al die provinsies, maar die metrorade wat kommer wek, sluit Ekurhuleni en Tshwane in. Albei toon nou groot bedryfstekorte.”

Volgens Van Onselen plaas die regerende party natuurlik baie vertroue in plaaslike regering en distriksontwikkelingsmodelle, tog is dit waar heelwat wanprestering en korrupsie plaasvind.

“Nuwe belastings en heffings word nou ook op plaaslike vlak voorgestel. Tog kan ons wonder hoe wys dit is om verdere geld aan sulke uitgeholde instellings te bewillig.”

(Grafika: Sakeliga.)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

LiveAndLetLive ·

En verhogings gedurende lockdown.
Werk met aansoeke, ongelooflik om te sien

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.