Luister in 3 minute: Stad Kaapstad, werkloosheidsyfer en garsboere in die nuuskollig

(Argieffoto.)

In die jongste aflewering van 3 Minute, 3 Sake bespreek Gerhard van Onselen, ʼn senior ontleder by Sakeliga, ʼn hofuitspraak teen die Stad Kaapstad, ʼn vooruitskatting in die verhoging van die plaaslike werkloosheidsyfer en garsboere wat ná die drankverbod met ʼn oorskot in produksie sit.

Die Stad Kaapstad het verlede week aan die verkeerde kant van ʼn hofuitspraak beland ná die Wes-Kaapse hooggeregshof onlangs beslis het dat Kaapstad voortaan gedurende die ramptoestand nie vermeende onwettige tydelike strukture sonder ʼn hofbevel mag verwyder nie. Dit was ingevolge ʼn tydelike interdik.

“Verder mag die Stad nie ʼn tender vir die verwydering van onwettige strukture toeken voordat verdere hofverhore later die jaar plaasgevind het nie.

“Ongeag die regstegniese elemente wat nog bestudeer word, dui hierdie uitspraak op moontlik moeiliker vereistes by die uitsetting van onwettige besetters.

“Na Sakeliga se mening kan hierdie uitspraak ook regsonduidelikheid veroorsaak. Om te bepaal wanneer ʼn mens as ʼn onwettige besetter of betreder beskou word, is nou meer onduidelik,” sê Van Onselen.

Sakeliga, asook die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge, is bekommerd oor die uitwerking hiervan. Sal populistiese politici nou makliker onwettige grondgryping kan aanmoedig? Dit is ʼn risiko om te verreken, meen die instituut. Kaapstad het besluit om teen die uitspraak te appelleer.

In ʼn onlangse skatting reken die ekonoom Mike Schüssler dat Suid-Afrika se uitgebreide werkloosheidsyfer van 38% tot meer as 53% kan klim. Hy skryf dit toe aan Covid-19-maatreëls, bykomend tot die voorafgaande resessie.

Schüssler beskryf hierdie toestande as ʼn depressiestyl-werkloosheid. By dié 50%-vlak sal net meer as ʼn derde van volwassenes ʼn salaris verdien.

Hy reken verder ʼn volgende vlaag van afleggings is moontlik sodra Covid-19-hulpskemas beëindig word, en dat die bruto binnelandse produk per capita tussen 11 tot 14 jaar sal neem om te herstel.

“ʼn Moontlike gevolg hiervan is groter maatskaplike onrus, indien geld vir toelaes opdroog. Sommige verbruikers gaan ook versigtiger moet bestee, wat onder meer die restaurantbedryf kan raak. Veranderinge in werkpatrone sal ander bedrywe soos kommersiële eiendom en motorhandel ook beïnvloed.

“Ons sien duidelik hoedat die ekonomie by nuwe toestande moet aanpas. Dit is noodsaaklik dat verdere nekslae op regulatoriese gebied vermy moet word,” voeg Van Onselen by.

Nog een van die gevolge van die drankverbod is die uitwerking daarvan op plaaslike garsboere. Rapport berig oor garsboere wat nou met ʼn oorskot van 300 000 ton gars sit.

Gars word plaaslik hoofsaaklik gebruik om bier te maak. Die grootste gedeelte van produksie gaan vir AB InBev as inset tot bier. Die alkoholverbod het egter gelisensieerde drankverkope asook AB InBev se vraag na gars hewig belemmer.

Soos voorheen bespreek, AB InBev het reeds plaaslike belegging weens die staat van inperking opgeskort.

Vir ʼn bedryf soos landbou – wat oor langer tydperke beplan – is hierdie ontwrigting skadelik en heelwat garsboere gaan waarskynlik verliese ly.

Volgens die Buro vir Ekonomiese Ondersoek verwag ander landbousegmente, soos koring en kanola, groot oeste of selfs ʼn rekordopbrengs. Dit is ten minste ʼn ligpunt wat die uiters benarde BBP-uitkyk effens kan verbeter, maar die prestasie van die landboubedryf kon beter gewees het sonder die irrasionele regulasies.

“Markte sal uiteindelik by sulke ingrepe aanpas, maar die aanpassing weens die afsonderingsmaatreëls is nie pynloos of sonder verarming nie,” sluit Van Onselen af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.