Luister in 3 minute: Strenger beleid, wetsontwerpe gaan werkloses nie help

(Foto: Facebook)

In hierdie week se aflewering van 3 Minute, 3 Sake bespreek Gerhard van Onselen van Sakeliga die strenger beleid en wetsontwerpe wat die regering wil instel om werklose mense te help en armoede te verlig. Hy kyk ook na ʼn verslag wat daarop dui dat armoede toegeneem het te midde van die Covid-19-pandemie.

Eerste gesels ons oor gebrek aan werk. Die ekonoom, Paul Romer, ʼn Nobelpryswenner, meen dat die gedwonge verhogings in lone maak dat talle werklose mense in Suid-Afrika effektief nooit ʼn formele werk sal kan kry nie. So berig die Rapport.

Romer wys, met reg, dat beleid wat poog om lone hoër te dwing, minder geld laat om die meer as 11 miljoen werkloses in diens te neem.  Hierdie opmerkings word natuurlik gemaak in die lig van rampspoedige beleid soos nasionale minimumlone en ander vereistes.

“Jy kan sakeondernemings miskien dwing om vir ʼn tyd meer te betaal deur iets soos ʼn minimumloon, maar jy kan hulle nie dwing om in bedryf te bly nie,” sê Van Onselen.

Suid-Afrika se arbeidsbeleid word gereeld as te rigied beskryf. Verskerpte arbeidsbeleid maak dit natuurlik duurder om werk te kan gee in die eerste instansie. Waar beleid die koste van arbeid kunsmatig opstoot, kan ʼn mens verwag dat daar gevolge sal wees.

“Die vraag bly egter staan: Wat is nodig sodat 11 miljoen werkloses kan werk kry? Strenger of makliker arbeidsbeleid?”

Volgende kyk Van Onselen na ʼn verslag van die VN wat nou beraam dat soveel as 235 miljoen mense in 2021 humanitêre bystand en beskerming sal benodig, veel meer as in die verlede.

Sommige media noem breedweg “die pandemie” as oorsaak, maar Mark Lowcock, ʼn onder-sekretaris-generaal by die VN, beklemtoon egter dit is inperkings en die globale resessie wat die armstes die swaarste tref.

“Lowcock wys verder daarop dat ernstige armoede vir die eerste keer sedert die laat 90’s sal toeneem. Tot dusver was armoede proporsioneel aan die afneem.

“In 2020 sien ons die breedste insinking in per capita-inkomste sedert die 1870’s. Die globale armoedekoers, volgens die VN-verslag, kan styg tot by sewe uit elke 100 mense (gemiddeld). Voor die Covid-19-pandemie was die projeksie drie uit elke 100. ʼn Skerp styging.”

Sakeliga het hierdie week kommentaar ingedien op ʼn wetsontwerp wat deur die Gautengse regering beoog word. Die Gauteng- townshipontwikkelingswetsontwerp hoop om townships in Gauteng ekonomies te ontwikkel.

“Die gedagte is lofwaardig, maar die wetgewing mis die kol. Dit poog om eienaarskap net vir landburgers en permanente inwoners te reserveer. Dit sal geld in sekere township-gebiede, maar dit kan ook gevaarlike regspresedente oor die ekonomie skep, wat swart ekonomiese bemagtiging kan verskerp.

“In effek sal heelwat produktiewe buitelanders van eienaarskap uitgesluit word – wat arm verbruikers kan benadeel,” sê Van Onselen.

Hy meen wette wat die rompslomp vermeerder en die omvang van mededinging in townships verminder moet ernstig oorweeg word. Gesonde mededinging verbeter dienste en pryse. En pryse is veral belangrik vir arm gebiede.

Hierdie wetgewing voorsien ook ander maniere om by township-ekonomieë van Gauteng in te gryp. Die voorstel kom neer op groot subsidies en die staatsbesteding, wat kwalik nou bekostig kan word.

“Die gedagte om die ekonomie van Gauteng te bevorder is welkom. Ons meen egter dit moet gebeur deur spesiale ekonomiese gebiede en gelykmatige deregulering van voldoeningsvereistes vir alle ondernemings.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.