Luister in 3 minute: Swak beleid speel rol in werkloosheid

frans-cronje-irr

Dr. Frans Cronje van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge. (Foto: Instituut van Rasseverhoudinge/Youtube)

In hierdie week se aflewering van 3 Minute, 3 Sake gesels Gerhard van Onselen, senior ontleder by Sakeliga, oor die konsepweergawe van ʼn wetsontwerp wat die gedrag van finansiële instellings reguleer. Hy bespreek oor die sprake van strenger inperkingsvlakke en regeringsbeleid se uitwerking op werkloosheid.

Die kommentaartydperk op die volgende konsepweergawe van die wetsontwerp oor die gedrag van finansiële instellings sluit eersdaags. Dié wetsontwerp beplan om ʼn verandering in die regulering van finansiële instellings aan te bring.

Sakeliga maan finansiële ondernemings om die moontlike impak van die wetsontwerp te ondersoek en kommentaar daarop by die nasionale tesourie in te dien.

Dawie Roodt, hoof ekonoom by die Efficient Group, verduidelik dat die finansiële sektor en die breër tersiêre sektor oor die afgelope jare ʼn belangrike rol gespeel het om die ekonomie staande te hou.

“Die nuwe regulasies versterk egter die hande van die reguleerder om sogenaamde gedragstandaarde op die finansiële sektor af te dwing. Die voldoening aan swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en transformasie word ook in die wetsontwerp as ʼn duideliker doelstelling gestel.

“Die uiteinde sal waarskynlik beteken dat die bedryf se gedrag en bestuurspraktyke (met inbegrip van SEB) sterker gereguleer sal word,” sê hy.

Volgende kyk Van Onselen na die groep Business for Ending Lockdown (B4EL) wat kapsie gemaak het teen sprake van ʼn tweede reeks strenger inperkings.

Dit volg nadat regeringsamptenare soos onder andere Sihle Zikalala, die KwaZulu-Natalse premier, met strenger inperkings gedreig het.

Pres. Cyril Ramaphosa het later genoem dat verdere inperkings nie tans oorweeg word nie, maar luidens berigte, is die opsies ook nie van die tafel af nie.

“Kommer is te verstane, gegewe die onverwagse, lukraak en hardhandige hantering van die publiek in die vorige fases van inperking.”

Allan Winde, die premier van die Wes-Kaap, het genoem dat fopnuus oor die onderwerp versprei word. Winde reken egter ook dat nuwe streng inperkings vernietigend sal wees en dat dit tot meer werksverliese, honger en ʼn humanitêre krisis sal lei.

Sy mening stem ooreen met die kommer van B4EL, wat ook die nadraai van die eerste inperkings as vernietigend beskou.

B4EL se aanbeveling staan steeds dat die ramptoestand opgehef moet word en voorsien die publiek met vrywillige aanbevelings oor hoe om gesondheidsrisiko’s te bestuur.”

Laaste kyk Van Onselen na die rol wat beleid in werkloosheid speel. Frans Cronjé van die Sentrum vir Risiko-ontleding (CRA) meen dat swak beleid ʼn groot rol in werkloosheid speel.

Hoe gebeur dit? In die eerste opsig, luidens Cronjé, maak beleid soos onteiening sonder vergoeding beleggings in Suid-Afrika minder gunstig. Dit veroorsaak uiteindelik minder werkgewers.

Verder word mense met laer vaardighede in praktyk deur beleide soos die nasionale minimum lone, en ander sektorale vasstellings uit die formele arbeidsmark geprys. Sakeliga dink Cronjé is reg hieroor.

“Vir Cronjé is beleide soos die nasionale minimum loon en ander arbeidsbeleide ideologiese heilige koeie. Daardie beleide moet heroorweeg word sodat mense met laer vaardighede in die mark kan meeding. Die ou vraag staan steeds: Is ʼn laer loon nie beter as geen loon nie?

“Hervorming is polities gesproke natuurlike makliker gesê as gedaan. En werkloosheid is natuurlik ʼn knyptang wat frustrasie aanblaas en verdere politieke prosesse sal aanwakker volgens die CRA,” sluit Van Onselen af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.