Luister in 3 minute: Swakker indiensnemingsvlakke en verslag oor skuldneigings

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Pixabay)

In vandeesweek se 3 Minute, 3 Sake gesels Gerhard van Onselen van Sakeliga oor die wysigings aan die Wet op Maatskappye en ʼn verslag van Transunion oor die jongste skuldneigings. Hy fokus eerste op formele indiensneming wat swak bly.

Die nadraai van die inperkings en impak op ondernemings het ʼn aansienlike duik in formele indiensneming veroorsaak. Dit blyk na ʼn onlangse verslag van Statistieke Suid-Afrika oor indiensneming in die formele sektor wat dui op ʼn kommerwekkende neiging.

Voorheen is formele indiensneming voor 2020 op tussen 10 en 10,2 miljoen geskat. Ná die eerste inperkings het hierdie syfer na sowat 9,5 miljoen geval. Die mees onlangse verslag vir Junie wys dat formele indiensneming steeds by sowat 9,6 miljoen mense bly het.

Hierdie neiging bekommer ʼn mens natuurlik. Dit dui daarop dat heelwat verlore werkgeleenthede in die formele sektor nie besig is om terug te keer nie.

Volgende: Ebrahim Patel, minister van handel en nywerheid, het ʼn konsepwetsontwerp vir die Wet op Maatskappye gepubliseer. Die minister meen hierdie wetsvoorstel gaan opskuddings veroorsaak.

Dit lyk inderdaad of dit wel die geval gaan wees, maar ons is nie seker of hierdie opskuddings positief gaan wees nie.

Luidens berigte bevat die wetsontwerp verskeie voorstelle, soos bykomende vereistes vir werknemerverteenwoordiging op rade van maatskappye, asook dat direkteure se verpligtinge teenoor veelvoudige belangegroepe verbreed moet word.

Dit vestig ook verdere vereistes vir sosiale en etiek-komitees, en verg dat sekere besonderhede, soos oor vergoeding, openbaar gemaak moet word.

Sakeliga voorsien dat hierdie vereistes uiteindelik die rompslomp en koste vir heelwat maatskappye sal vermeerder. Die wetsontwerp volg miskien globale neigings, maar soos gewoonlik word die verskuilde koste in Suid-Afrika se unieke omgewing nie behoorlik in berekening gebring nie.

Verder voorsien Sakeliga dat die voorstelle politieke belangegroepe sal bemagtig om ʼn skerper wig by die private bestuur van maatskappye in te slaan.

ʼn Vraag kan dan gestel word oor die behoorlike skeiding van mag tussen die regering en die veronderstelde private arena van maatskappy en maatskappybestuur.

En laaste, Transunion, die kredietburo wat verbruikers se kredietneigings ontleed, wys op onlangse neigings in skuld. Luidens berigte sukkel heelwat mense nou met hul skuld.

Wat uitstaan in die verslag is dat heelwat verbruikers die skok van strenger inperkings met kredietkaartskuld probeer bestuur het. Toenames in skuld was egter nie eweredig oor die kredietmark versprei nie.

Die impak is erger gevoel deur die jonger generasies. Transunion verwys na ʼn “nuwe generasiegaping” ten opsigte van skuld.  Sakeliga dink die omvang en nadraai van sodanige gaping is nog onseker, maar kan selfs later politieke gevolge inhou.

Jonger verbruikers se skuld het skerper toegeneem as die ouer generasies s’n. Net nog ʼn voorbeeld van die ongelyke impak van inperkings op verskeie groepe, soos die jongeres en die armes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.