Luister in 3 minute: Te veel regeringsmag in nuwe gaswet; Grondwet bekyk

IMF

(Argieffoto: Bnr.bg)

In die laaste aflewering van 3 Minute, 3 Sake vir 2021 gesels Gerhard van Onselen oor Sakeliga se kommer oor die nuwe gaswet, die IMF se ontevredeheid met SA se ekonomie en hy praat ook oor die uitleg van die Grondwet.

Die Suid-Afrikaanse Olie- en Gas-alliansie (SAOGA) het onlangs kapsie gemaak teen die voorgestelde wysigingswetsontwerp oor gas. Volgens die alliansie vestig die voorgestelde wetgewing te veel mag in die nasionale energiereguleerder (Nersa).

Sakeliga het ook voorheen teen dié beoogde wetgewing kapsie gemaak. Luidens ʼn aanbieding deur Sakeliga se regsgenoot, Martin van Staden, is die organisasie bekommerd oor die rasgebaseerde maatreëls in die wetgewing. Dit mik glo om swart ekonomiese bemagtiging (SEB) aan gaslisensies te koppel.

Van Staden meen die regering versnel nou rassebeleid, selfs gedurende ʼn ekonomiese afswaai en met ʼn krimpende belastingbasis. Onnodig vernietigend, juis wanneer Suid-Afrika eerder markkragte moet ontsluit.

Die gaswet is egter maar net een voorbeeld. Suid-Afrika sien nou SEB-bepalings oral: van eiendomspraktisyns tot finansiële dienste. Oral waar ʼn lisensie of goedkeuring as hefboom gebruik kan word, moet Suid-Afrikaners maar wakker sit.

Volgende: Luidens berigte het die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) ontevredenheid oor die vordering van die Suid-Afrikaanse ekonomie uitgespreek.

Die IMF het onder meer na onbetroubare en duur openbare infrastruktuur in telekommunikasie, elektrisiteit en vervoer, hewige staatsbesteding, rompslomp en ʼn onbuigsame arbeidswetbedeling verwys.

Die fonds meen dat meer buigsame arbeidswette arbeid sal bemagtig. Dit is in skerp kontras met optrede van talle politici en wetgewers wat gedurig maniere soek om regulatoriese rompslomp en maatreëls soos minimumlone te verskerp.

Dink maar net ook aan die voorgestelde diensbillikheidswetsontwerp wat harde rasseteikens vir sektore van die ekonomie beoog. Die IMF meen verder rompslomp en lastige burokrasie moet drasties verminder word.

En laaste, in ons nuwe insetsel oor staatsbestandheid, kyk ons na die Grondwet. Prof. Koos Malan, ʼn kenner op die gebied van publieke reg, wys in sy werke daarop dat die interpretasie van ʼn grondwet baie afhang van die siening van die heersende gemeenskap wat ʼn grondwet interpreteer.

Dit is dan nie ʼn geval soseer van wat op papier staan nie, maar hoe die grondwet gelees en belangrik werklike praktyk vestig. Die heersende grondwetgemeenskap vorm dus in praktyk aan die uitvoer van die geskrewe teks. Selfs sonder ʼn tweederde meerderheid.

Die Suid-Afrikaanse Grondwet is byvoorbeeld op papier verbind tot nie-rassigheid. En tog, in praktyk, word die land geken aan uiters ingrypende wette wat onderskei op grond van ras soos met SEB en diensbillikheid.

Die polisie is op papier verantwoordelik vir interne veiligheid, tog is daar verreweg meer private sekuriteitswagte as polisie gevestig wat orde bevorder. Daar word dus ʼn nuwe veiligheidsrealiteit geskep.

Malan meen dat, om die werklike “konstitusie” te verstaan, kan Suid-Afrikaners nie volstaan by die geskrewe Grondwet nie. Sommige grondwetbepalings is byvoorbeeld nooit lewe gegee nie (wat Malan ʼn “doodgebore wet” noem), byvoorbeeld elemente van die artikels oor selfbestuur en taalregte.

Die goeie nuus is egter dat, indien ʼn grondwet tot ʼn mate praktyk volg, laat dit ons met ʼn geleentheid om nuwe beginsels en formulerings deur gesonde doen en late te vestig.

Daarom bou Sakeliga saam met ander instellings aan ʼn staatsbestande kommersiële gemeenskap. ʼn Gemeenskap wat kan floreer en staande bly des ondanks die staat se doen en late.

Aankondiging:

Hierdie is dan ook die laaste uitgawe van 3 Minute, 3 Sake in sy huidige formaat.

Volgende jaar skop ons af met ʼn nuwe insetsel waar ons kyk na die praktiese sy van staatsbestandheid, oftewel miskien, hoe om jou en jou kommersiële belange teen swak beleid  en -regeringsingrype te verskans.

Dit was ʼn voorreg om hierdie gereelde insetsel weekliks aan jou te lewer. Tot volgende jaar!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.