Luister in 3 minute: Verkoop van SA se kragstasies ’n moontlikheid

(Foto: Matthew Henry/Unspslash)

Gerhard van Onselen, ʼn senior ontleder by Sakeliga, bespreek in hierdie week se 3 Minute, 3 Sake pres. Cyril Ramaphosa se belangstelling om Suid-Afrika se kragstasies te verkoop, Covid-19 en die paniek op markte, en die BBP-syfers wat teleurgestel het.

Rapport berig dat Ramaphosa belangstel in die idee om Eskom-kragstasies aan private sakelui te verkoop. Hy reken dit kan R350 miljard beskikbaar maak om Eskom-skuld te delg.

Die verkoop van bates deur maatskappye wat in die moeilikheid is, is natuurlik niks nuuts nie. En die toetrede van ʼn verskeidenheid spelers in die mark vir kragopwekking is natuurlik beter as een monopolistiese opwekker.

Gevolglik kan markkragte in die elektrisiteitsmark moontlik uitgebrei word en dit is iets waarvoor al lank beding word. Die uiteindelike sukses van so ʼn plan sal afhang van die toutjies wat die regering daaraan koppel. Die vraag is of regeringsvoorskrifte aansienlik verminder sal word.

ʼn Moontlike gevaar is wel dat wetgewing steeds vir nuwe private spelers kunsmatige buite-die-mark voorregte gee, wat sal maak dat elektrisiteit steeds nie so doeltreffend as moontlik opgewek sal word nie.

Volgende gesels Van Onselen oor Covid-19 en die paniek wat op markte ontlok is.

“Sover sien ons dat die rand, die JSE en ander beurse soos die Nasdaq, maar veral oliepryse, aansienlike skokke beleef het. Plaaslik is Sasol-aandele ook swaar getref,” het hy gesê.

Covid-19 is ʼn nuwe virus wat onsekerheid bring. ʼn Aantal gevalle is nou in Suid-Afrika aangemeld wat plaaslik onstuimigheid veroorsaak het. Dit is nog onseker wat die virus se uitwerking op plaaslike bodem gaan wees.

“Wat ons reeds sien is dat plaaslike aankope geaffekteer word, wat kan oorspoel na maatskappye se dag tot dag bedrywighede.”

ʼn Ander oorweging is die mate van kwarantyn maatreëls wat in reaksie op gemeenskapsinfeksie ingestel kan word. Suid-Korea het grootskaalse toetse en geteikende ingryping gedoen terwyl Italië nou uiterste nasionale noodmaatreëls ingestel het.

Hoe die Suid-Afrikaanse regering gaan optree is ʼn ope vraag, maar dat die ekonomie nadelig geraak gaan word lyk onvermydelik.

“Laastens kyk ons na die benarde BBP-prentjie. Statistieke Suid-Afrika het ʼn groter as verwagte daling in die amptelike BBP-groei aangekondig. Die groeikoers vir die geheel van 2019 staan op ʼn skamele 0,2%.

“Die groei in vaste belegging, ʼn syfer wat ons gewoonlik dophou, dui daarop dat die vaste belegging nou vir twee jaar gekrimp het: in 2019 met 0,9% en in 2018 met 1,4%. Beleggers bly traag om vaste beleggings aan te gaan en gevolglik groei vaste beleggings nie,” het Van Onselen gesê.

Die gehalte van beleggings is ook belangrik. Die antwoord op swak beleggings is natuurlik nie dat die regering meer moet bestee nie. Daar moet eerder ʼn gunstiger beleidsomgewing geskep word waarin beleggers weer tuis sal voel om te investeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

marius ·

1971 Valiant te koop. Was gebruik vir hoender hok en het nie ruite , wiele of ‘n enjin nie. Verder in uitstekende toestand . Slegs elf en dertig miljoen britse pond. Geen kansvatters nie asseblief….

Foefie ·

So word ons land se belangrikste bates stukkie vir stukkie verkoop. Jou KRAGTOEVOER, lughawens en sulke goed,… liewe magtag! Kan die mense nie vir hulself dink nie?? Hierdie land gaan lam gelê word, hou so aan en sien.

Spiekeries ·

Die land is al klaar lam gelê? Enige verandering nou, is ‘n verbetering.

Maria ·

Ek sal enige verbetering verwelkom. Dit gaan egter nie die proleem wegneem nie – nl die skuldlas van Eskom. Ek wil nie my krag aan Eskom betaal nie, hulle is te korrupen die krag is aie duur, Jy sal VAT daarop betaal, ens ens

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.