Luister in 3 minute: Verslag bereken verlore lewensjare weens inperking

Argieffoto (Foto: Myriam Zilles/Pixabay)

In vandeesweek se 3 Minute, 3 Sake bespreek Gerhard van Onselen, ʼn senior ontleder by Sakeliga, ʼn verslag wat die verlore lewensjare weens inperking bereken het. Hy kyk ook na die gevolge van die rookverbod en die aankope-indekse wat wys sakevooruitsigte is besig om te tuimel.

Pandemic Analysts (oftewel Panda), ʼn nuwe groepering van aktuarisse, medici en ekonome, het ʼn voorlopige verslag uitgereik oor die impak van die periode van algehele afsondering op verlies aan lewensjare.

“Baie is al gesê oor die aantal mense wat weens Covid-19 kan sterf, maar die impak van die inperkingsperiode is ook belangrik.

“Panda bereken dat Suid-Afrika byna 500 000 saamgetelde lewensjare [let wel: nie sterftes nie] weens Covid-19 kan verloor. Daarteenoor, reken die groep, gaan Suid-Afrika ten minste 14 miljoen saamgetelde lewensjare weens die impak van die inperking self verloor,” sê Van Onselen.

Die verslag voer aan dat daar ʼn sterk verwantskap bestaan tussen armoede en voortydige sterftes. Die gedwonge isolasie kan die ekonomie met tot 15% laat inkrimp. Dit veroorsaak armoede en die verlore lewensjare.

“Hierdie soort verlies word natuurlik nie op regstreekse grafieke oor die virus op ʼn daaglikse basis aangedui nie. Hierdie impak gebeur oor ʼn langer tydperk en gaan kwalik in die media gesien word,” voeg hy by.

“Die Suid-Afrikaanse regering het besluit om die verbod op rook en drank voort te sit. Veral die manier hoe dit gedoen is steek baie dwars in die krop,” meen Van Onselen.

“Sommige nie-rokers verwelkom natuurlik die verbod, maar, dieselfde regulasies het ook warm wegneemkos verbied. Ons sien die ingrypende en drakoniese aard van hierdie soort regulasies. Ons bevraagteken die regering se rasionaal hier.

“Nikotien is verslawend en meeste rokers verstaan die risiko’s. Onttrekking veroorsaak daarby werklike stres vir rokers. Om dit te ontken stel jou eie belewenis en voorkeure uiteindelik bo ʼn ander s’n.”

Sakeliga meen rook en tabakprodukte word ook reeds streng gereguleer.

“Verder, soos prof. Francois Steyn and Harriét Klopper noem, staan tot sewe miljoen rokers nou lynreg teenoor die regering. Rokers, meen Steyn en Klopper, ervaar waarskynlik groot subjektiewe onregverdigheid in hierdie twyfelagtige optrede.

“Die gevolg is dat baie mense sulke sanksies op hul gedrag as uiters onregverdig beleef en gaan teenstaan. Ons verwag dat teenstand net sal groei,” sê Van Onselen.

Laastens kyk hy na die Absa-aankopebestuurdersindeks. Soos te wagte het hierdie indeks skerp getuimel. Respondente se verwagting vir die volgende ses maande het tot die laagste vlak gedaal sedert die indeks in 1999 begin is. Dit staan nou op 5,1 uit 100.

“ʼn Mens kan nie die ekonomie op ʼn groot skaal inperk sonder reusagtige bewegings op sulke indekse nie. Vervaardiging is in April bykans heeltemal opgeskort. Die vervaardiging van essensiële produkte maak eintlik maar net ʼn klein proporsie van die land se totale vervaardiging uit.

“Die indiensnemingsindeks het ook gedaal. Dit ondersteun vrese van die tesourie dat groot werksverliese [ons] in die gesig staar as die gedwonge inperking nog veel langer voortduur,” sê Van Onselen.

  • Luister na Van Onselen se volledige uiteensetting van hierdie drie sakekwessies bo-aan die berig.
  • Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Kliek hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Objektief ·

Het van die begin gese die effek van die medisyne is erger as die effek van die siekte.

Die virus gaan eers onder beheer wees as 60-70% van die bevolking weerstand ontwikkel het. Dit beten dat met of sonder inperking ongever 75% van ons dit in elke geval gaan kry waarvan ongeveer 5% gaan sterf net oor n langer tydperk. Die verskil is met beter inperkings regulasises het meer van ons ekonomie oorgebly.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.