Luister in 3 minute: Verslapping van inperking ‘te min, te laat’

dr-theo-de-jager-01

Dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai. Foto: Verskaf.

Gerhard van Onselen, ʼn senior ontleder van Sakeliga, bespreek in die jongste 3 Minute, 3 Sake die verder verslapping van afsonderingsmaatreëls, ʼn groep wat aandring op groter ekonomiese vryhede om armoede te voorkom en die landbougemeenskappe se regsaksies teen die regering.

Pres. Cyril Ramaphosa het oor die naweek vlak 2 van die nasionale staat van inperking aangekondig. Hy het wel kort daarna in sy eie nuusbrief gesê Suid-Afrikaners moenie te gou opgewonde raak nie.

“Die verbod op tabak- en drankverkope is nou opgehef. Baie is bly en produk vlieg van die rakke af, dalk nou nog meer as ooit tevore. Bykomende bedrywe kan nou ook heropen, maar moeilike reëls oor kapasiteit en ander gesondheidsprotokolle bly van krag. Die koste daarvan sal steeds bedrywighede en die aanpassing van sake belemmer. So ook is daar nog die aandklokreël wat steeds van krag is,” se Van Onselen.

Hy meen dit beteken prakties in die ramptoestand dat vryhede – soos om te werk en ʼn bestaan te maak – tot effektiewe toelatings van staatsamptenare verwater is. Toelatings kan natuurlik enige tyd opgeskort word, soos met sprake oor ʼn tweede vlaag van Covid-19.

Sakeliga en ander sakeorganisasies, bekende ekonome, sakelui en ontleders het onlangs ʼn veldtog genaamd Business for Ending Lockdown afgeskop. ʼn Lys van organisasies en ondersteuners is by endlockdown.co.za beskikbaar.

Hierdie groep is van mening dat die grendelstaat nou geheel en al beëindig moet word. Dié regulasies moet met vrywillige riglyne vervang word waar mense hulle eie gesondheidsrisiko’s nou self moet bestuur.

“Volgehoue inperking, meen Business for Ending Lockdown, sal maak dat die humanitêre krisis van die inperking verder vererger word. Sover sien ons reusagtige werkloosheid en toenames in selfs honger en wanvoeding.”

dawie-roodt-begrotingsrede-2018

Die ekonoom Dawie Roodt. (Argieffoto: Reint Dykema/AfriSake)

Die groot skade van armoede word gereeld deur ekonome soos Dawie Roodt, ʼn adviseur van die groep, beklemtoon. Armoede kos regstreeks lewens, veral in Suid-Afrika.

Om te herstel meen ekonoom Russell Lamberti, nog ʼn adviseur van die groep, moet die afsondering beëindig word en verantwoordeliker regeringsbeleid moet ingestel word.

“Belasting en staatsbesteding moet beperk word. Pensioene moet uitgelos word. Beleggersvryheid en eiendomsregte moet bevorder word. Daarsonder sal ʼn mooi herstel moeilik plaasvind.”

Die landbou-organisasie Saai het die verslapping van regulasies as “te min, te laat” beskryf.

Dr. Theo de Jager, voorsitter van Saai, noem dat dit reeds te laat is om die ekonomiese skade van die oordrewe Covid-19-regulasies op baie boere, landboubedrywe en waardekettings te beperk.

Kontantvloeikrisisse en blote goed soos te min stoorplek is nou wesenlike probleme.  Trofeejag, volgens De Jager, is vermink weens die jag- en reisverbod.

Tabakboere is vanselfsprekend hewig benadeel. Tabakplase lewer gewoonlik nie net tabak nie, maar ook ander gewasse wat tot voedselsekerheid bydra. Daarom het nie net tabak skade gely nie.

Verder is die wêreldbekende wynbedryf, ʼn plaaslike kroonjuweel, ʼn erge en onnodige knou toegedien.

De Jager noem dat oorvol kelders reeds besig is om die 2021-druiweoeskwotas te beïnvloed.  Produsente en werkers, wit en swart, gaan onder verminderde druiwekwotas ly.

Saai het tans heelwat regsake aanhangig teen die regering en Sakeliga wens hulle alle sterkte toe. Sulke instellings soos Saai en ander verdien ondersteuning.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Chris ·

Ons verbruikers van die vrug van die wingerd hoor die geweenklaag en gesanik van die wynboer wat nou met ‘n oorskot van die vog in die kelder sit. Wat gaan jy daaromtrent doen meneer. Gaan jy dit ook soos die melkboere van weleer dit in die see in stort of gaan jy jou prys verlaag en aan die publiek beskikbaar stel? Verkoop dit teen ‘n billike prys aan die breër publiek en maak iets daaruit as wat jy dit is die see stort of in die kanale afgooi. Die aanvraag is deesdae binnelands baie hoër as die aanbod in elke geval, of wat jy vir die wisselkoers om jou te bevoordeel? Vra maar net. Help my reg as ek verkeerd is, ek is oop vir oortuiging.

Michiel ·

Die skrywer praat van wynboer maar daar is baie wynboere in dieselfde bootjie wat ook geraak word. E n ons moet dink in die breë spektrum van die bedryf. En wat van sy werkers met gesinne. Dink breër.!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.