Luister in 3 minute: Vlak 1-inperking ontwrig steeds toerisme

(Foto: Love South Africa/Facebook)

In die jongste aflewering van 3 Minute, 3 Sake kyk Gerhard van Onselen na vlak 1 van afsondering wat toerisme lamlê. Die inperkingsmaatreëls het ook ʼn beduidende invloed op die toename in hongerte en die uitbreiding van armoede gehad. Die radiospektrum wat bestem is vir opveiling kom ook onder Van Onselen se ekonomiese vergrootglas.

Suid-Afrika se grense is in die lig van die vlak 1-afsonderingsmaatreëls gedeeltelik en stuksgewys oopgestel. Dit is egter min troos vir die toerismesektor.

 Tans is sowat 60 lande op ʼn lys van hoërisikolande. Dis nou lande wat Suid-Afrika steeds nie vir vakansies mag besoek nie. Die meeste toeriste (by verre) kom besoek die land vir vakansie en ontspanning.

Van die lande op die lys is die VSA, Brittanje (VK), Frankryk en Nederland. In 2019 het hierdie lande 1,1 miljoen van sowat 2,6 miljoen oorsese toeriste na SA gebring. Die rede vir die beperkings op lande is hul hoë Covid-19-gevalle en infeksiekoerse; maar besoekers uit Afrikalande, wat op sigself baie minder toets, mag Suid-Afrika wel vir vakansiedoeleindes besoek.

“Die twyfelagtige reëls maak dat heelwat toeriste uit ryker lande uitgesluit bly. Sou dit nie beter gewees het om eenvormige riglyne op alle lande toe te pas nie?” vra Van Onselen.

Die gevolg is dat die toerismebedryf se regulatoriese knou sal voortduur, veral waar ondernemings van welvarender lande se toeriste afhanklik is. Dit het gevolge wat oorspoel, soos werkloosheid en swakker aanvraag wat verwante bedrywe van toerisme raak.

Die jongste Coronavirus Rapid Mobile Survey (Nids-Cram)-peiling se uitslae is onlangs uitgereik. Dit was hierdie peiling wat die omvang van werksverliese en honger weens Covid-19 en die regulatoriese inperking aanvanklik in April vir die eerste keer uitgelig het.

In Junie, volgens dié peiling, het 37% van huishoudings se geld vir kos opgeraak. Dit was 47% in April van 2020. Hoewel dinge in Junie verbeter het, het drie uit elke tien huishoudings in die maand steeds gesukkel. Dié syfer was 25% in 2018.

“Die inperkings het baie mense honger gelaat.  Verder sien ons dat kospakkies en toelae die impak net gedeeltelik kon verlig. Honger in Junie was steeds hoër as voor die grendelstaat.

“Die inperkings was verwoestend op die armste van die armes, was dit eerlik verreken? Daaroor kan ons wonder,” sê Van Onselen.

Die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Okosa) het onlangs nuwe hoë bandwydte radiospektrum goedgekeur vir opveiling. Dit is iets waarvoor die selfoonnetwerke al langer as ʼn dekade wag.

Kenners in die bedryf verduidelik gereeld dat ʼn tekort aan spektrum ʼn rol speel om data duurder te maak. Kommer bestaan wel dat die openingspryse waarteen die spektrum beskikbaar gestel word, sal maak dat datapryse nie verlaag nie.

“Dit is dalk eerder die bykomende regulatoriese vereistes wat datakoste kunsmatig hoog hou.

“Die spektrum behoort bes moontlik te verkoop teen die prys wat steeds vir ʼn aankoper sin sal maak. Regulasies het egter ʼn beduidende invloed op die koste van bedrywighede. Daar is talle vereistes – insluitend swart ekonomiese bemagtigingsvereistes – gekoppel aan die toekenning van hierdie nuwe radiospektrum.”

Sakeliga meen sulke vereistes verhoog drakoste en bemoeilik werklike markgerigte mededinging, wat dikwels die beste oplossing vir hoë pryse is.

(Grafika: Sakeliga.)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Vriendelike Frikkie ·

Ek verwys nou net na die toerisme sektor en meer spesifiek die besoek van nasionale parke. Die goeie tussen al die slegte is dat die diere darem nou ‘n bietjie van ‘n ruskans gegun word van al die raserige, besoedelende toeriste wat dag-tot-dag soos vlieë hul kom pla.

Androclus ·

Die toerisme sektor moet net wag van hierdie pandemie is nog nie verby nie lank nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.