Luister in 3 minute: Vlak 3, moontlike afleggings en repokoers bespreek

Lesetja Kganyago, president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank (Argieffoto: Elmond Jiyane, GCIS)

Welkom terug by 3 Minute, 3 Sake vir die week waar Gerhard van Onselen, ʼn senior ontleder by Sakeliga, die vlak 3-inperking wat op 1 Junie begin, bespreek.

Van Onselen kyk ook in hierdie podsending na Tiger Brands wat afleggings weens die afsonderingtydperk beoog en die Reserwebank wat die repokoers met 50 basispunte in Mei verlaag het.

Pres. Cyril Ramaphosa het die afgelope Sondag aangekondig dat Suid-Afrika in geheel na vlak 3 van die Covid-19-afsonderingsvlakke verslap.

Sekere gebiede, soos die Tshwane-metro, Johannesburg en die Wes-Kaap, word verder as brandpunte geïdentifiseer. Spesiale maatreëls sal by die brandpunte ingestel word en sulke gebiede kan enige tyd terug op vlak 4 of 5 geplaas word, het Ramaphosa gesê.

“Die reaksie hierop was gemeng. Die EFF – meestal stil in die grendeltyd – het byvoorbeeld die verslapping afgeskiet. Sakeliga het gesê die verslapping van afsonderingsmaatreëls is ʼn stap in die regte rigting. Die organisasie meen egter daar is ʼn groeiende wetenskaplike en openbare konsensus dat die verdere nut van inperking in geheel bevraagteken moet word.

“Ongelukkig bly die regering klaarblyklik verbind tot sy strategie van ʼn uitgerekte uitfasering. Dit kan nog maande beloop,” het Van Onselen gesê.

Sakeliga gaan vandeesweek voort met sy hofsaak in die hooggeregshof in Pretoria om die Covid-19-permitstelsel uit te daag en om die vryheid om sake te doen te beskerm.

Tiger Brands, ʼn voedselvoorsiener in Suid-Afrika, staar groot verliese weens die Covid-19-inperkings in die gesig. Tiger se verdienste het met 35% vir die eerste helfte van die jaar geval. Winste het onder druk gekom. Deel van die probleem was ontwrigting van sy internasionale voorsieningsketting. Daarby verwag die maatskappy bykomende koste van sowat R500 miljoen weens Covid-19-verwante koste.

“Tiger wys dat selfs die sogenaamde noodsaaklike ondernemings nie gespaar sal word van die grootskaalse ontwrigting wat die grendelstaat bewerkstellig het nie. Tiger voer natuurlik insette in van oorsee en is blootgestel aan randwisselkoersrisiko.

“Verder voer die maatskappy ook produkte uit. Alle sakebedrywighede vorm deel van die lewensvatbaarheid van sakemodelle. Die resultaat is nou groot finansiële verliese, maar ook verlore werkgeleenthede. Tiger het meer as 11 000 mense in diens,” het Van Onselen gesê.

Die Reserwebank het op die 22 Mei rentekoerse met ʼn verdere 50 basispunte verlaag, en nog rentekoersverlagings word tans vir die komende twee kwartale geprojekteer.

Dié bank het ook stappe bevestig wat banke aanspoor om makliker geld aan die huishoudings en ondernemings te leen.

Die Reserwebank verwag ʼn diep insinking van die ekonomie in die tweede kwartaal van 2020 en meen dat dit tyd sal neem om tot die vlakke voor die afsonderingsmaatreëls te herstel.

Die monetêrebeleidskomitee (MBK) voer verder aan dat die monetêre beleid nie op sy eie die vooruitsigte van die plaaslike ekonomie kan herstel nie. Daarvoor is goeie makro-ekonomiese beleid, strukturele beleidshervorming en beter beleggingsgeleenthede nodig.

“Sakeliga kan net daarmee saamstem en byvoeg dat die aard van die beleid wat ná Covid-19 staande bly, bepalend sal wees vir die herstel van gesonde sakebedrywighede,” het Van Onselen bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Baardman ·

Die EFF sal alles afskiet waar die “werk vir jou geld” beginsel toegepas moet word.

Pieter ·

EFF IS USELESS !!!! PUNT, MENS MOET HULLE NIE SO BAIE TYD IN MEDIA TE GEE NIE. AL WAT HULLE SOEK IS OM SO TE MAAK SOOS IN KOREA. (Jy moet n groot rasis wees om vir die eff te luister en the stem).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.