Luister in 3 minute: Watter opsies bly oor vir SA se staatskas

Minister Tito Mboweni. Foto: Elmond Jiyane, GCIS

In vandeesweek se 3 Minute, 3 Sake kyk Gerhard van Onselen, ʼn senior ontleder by Sakeliga, na die opsies vir die staatskas, die Reserwebank wat weer rentekoerse gesny het en die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) se uitsprake oor 2020 se resessie.

Tito Mboweni, minister van finansies, het omtrent sy hande vol by die tesourie. Mboweni praat van drie gelyktydige fiskale skokke. Covid-19 wat natuurlik oor gesondheid en ander hulpbronne strek. Tweedens, die swakker globale groei en dan ook plaaslike ekonomiese skokke. Die grootste hiervan, dink Sakeliga, is die taamlik onbuigsame beperkinge op produksie.

“ʼn Mens moet natuurlik eers produseer voordat jy kan verbruik en noodsaaklike produksie is nie so maklik om af te baken nie,” sê Van Onselen.

Mboweni is in gesprek met die Wêreldbank en ander instellings om geld vir die regering se Covid-19 reaksie te leen. Die Suid-Afrikaanse regering staan natuurlik nou saam met ander in die tou by dié instellings vir hulp.

“Die kappe wat die ANC en sy alliansievennote uitgedeel het toe Mboweni die IMF wou nader, gaan beslis nie sake help nie.

“Ons moet ook nie vergeet dat dit wat geleen word, ná Covid-19 terugbetaal moet word nie,” voeg Van Onselen by.

Die Reserwebank het Dinsdag die repokoers met 100 basispunte verminder. Dit is die tweede verlaging van rentekoerse die afgelope ruk.

“Hoewel dié van ons met skuld dankbaar sal wees, is die kwessie meer ingewikkeld,” meen Van Onselen.

Rentekoersbesluite affekteer ten minste twee groepe in die samelewing verskillend. Diegene met spaargeld word gepenaliseer terwyl dié met skuld voordeel trek. “Ons moet altyd die impak van beleid meet op meer as een groep mense. Tog is dit ʼn komplekse saak en menings daaroor verskil.”

Die SARB verwag nou dat BBP met 6,1% in 2020 sal krimp. Dit is ʼn enorme daling. Hou in gedagte dat Suid-Afrika se BBP in 2009 ná nog ʼn akute krisis met slegs 1,5% gekrimp het.

“Die bank beklemtoon die impak op klein ondernemings en die informele sektor. Die bank noem ook dat toestande vir ontluikende lande verswak het. Die kredietkrane is eenvoudig nie meer so toegewend nie. Iets wat minister Mboweni verder sal bekommer,” sê Van Onselen.

Laastens beskou hy die IMF se gedagtes vir 2020. Die IMF sê die ekonomiese intuimeling tans is die ergste sedert die groot depressie van die 1930’s en baie erger as die ekonomiese krisis van 2009. Dié instelling verwag ʼn inkrimping van 5,8% vir Suid-Afrika se ekonomie.

“Tog kan ons nooit mense uit die oog verloor in die totale wat regerings en ekonome aangee nie.

“Ongeag die gevaar van die virus neem ander gevare reeds toe. Volgens berigte is talle winkels en drankwinkels in die Kaap reeds geplunder. En informele gebiede toon groter spanning oor honger.

“Ons hoop is om die skade van die beleid-reaksie op Covid-19 so ver moontlik te beperk.  Maar vir baie mense, soos dagwerkers en ander blootgestelde mense, is dit reeds te laat, ʼn realiteit waarmee beleidmakers meer in die komende tyd toenemend te doen sal kry,” sê Van Onselen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Maria ·

om geld te leen by die IMF is baie duur geld. Die situasie het so versleg dat Mboweni nie veel beweegruimte gaan hê nie. Dan is ons slawe van die VSA

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.