Luister in 3 minute: Werkloosheid, die SAL en verwagting vir die staatsrede

staatsrede-2019-06-voorbereidings-in-kaapstad

Voorbereidings word getref vir die staatsrede wat Donderdagaand by die parlement in Kaapstad sal plaasvind. (Argieffoto: Jairus Mmutle/GCIS)

Gerhard van Onselen, senior ontleder by Sakeliga, bespreek in vandeesweek se 3 Minute, 3 Sake die jongste werkloosheidsyfer, Gwede Mantashe, minister van minerale en energie, se uitsprake oor die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) en verwagtinge vir die staatsrede.

Eerstens ʼn kykie na werkloosheid: Suid-Afrika se amptelike werkloosheidskoers staan tans by 29,1% vir die vierde kwartaal van 2019. Dit is dieselfde as in die derde kwartaal, maar die uitgebreide werkloosheidskoers – wat onder meer ontmoedigde werksoekers bytel – staan by ʼn astronomiese 38,7%.

Die werklikheid is dat werkloosheid ver te hoog is. Met die krisis kom daar natuurlik verskeie gedagtes oor hoe om dit op te los. Die gevaar is dat groter ekonomiese inmenging oorweeg sal word, maar dit sal teenproduktief wees.

Die Internasionale Monetêre Fonds (en Sakeliga) stel voor dat beleid hersien moet word sodat die private sektor geleide kan groei en indiensneming daaruit kan voortspruit. Uiteindelik is ʼn werk sinvol as dit bydra tot produktiewe bedrywighede in die ekonomie.

“Sakeliga meen ʼn groter klem op werkskepping in die staatsdiens of in wanfunksionele staatsinstellings is die verkeerde medisyne. Wat nodig is, is dat wetgewing wat tot ʼn rigiede arbeidsmark lei, verskraal moet word,” het Van Onselen gesê.

Gwede Mantashe, minister van minerale en energie, het onlangs sakeredders gesteun in hulle planne vir die SAL. Dit volg op uitlatings deur prominente politici oor die verloop van die SAL se sakereddingsproses wat die sluiting van roetes en moontlik afleggings insluit. Die betrokke politici sluit natuurlik niemand anders in nie as Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, en pres. Cyril Ramaphosa.

Mantashe meen die lugdiens moet nie noodwendig gered word nie. Daarvoor het Mantashe groot moeilikheid vir homself by die SAKP en die militante vakbondwese op die hals gehaal. Die SAKP wil Mantashe nou laat dissiplineer.

“SAL bly in die breë ʼn toetssteen van die toewyding tot ware ekonomiese hervorming. Hou die saak dop,” het Van Onselen gesê.

Laastens word daar na die Buro vir Ekonomiese Ondersoek (BER) se verwagtinge vir die komende staatsrede gekyk. Volgens beplanning bied Ramaphosa die staatsrede op 13 Februarie aan.

“Die Buro reken dat die plan met Eskom vir versnelde onderhoud (met gevolglike beurtkrag) en die Cosatu-voorstel van pensioengeld vir Eskom op ontleders se radar sal wees. So ook sal daar geluister word vir idees oor wat in die begrotingsrede moet verskyn wat aan die einde van Februarie gelewer word, veral rakende staatsdiensvergoeding.

“Die Cosatu-plan is natuurlik uiters kommerwekkend, veral in die opsig dat soortgelyke voorstelle later op ander vorme van spaargeld afgedwing kan word. Die kans bestaan ook dat verliese van so ʼn belegging later van die belastingbetaler verhaal kan word, indien vasgestelde voordeelfondse betrokke is.”

Van Onselen meen Ramaphosa sal ook sy hande vol hê om vertroue in sy administrasie in te boesem.

“Tot dusver tel betrokke finansiële data en peilings oorwegend nie in sy guns nie. Hy moes al lankal skouer aan die wiel gesit het,” het Van Onselen gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

charmaine ·

Al wat ons verwag is nog loadshedding, meer misdaad en alles wat opgaan. En hulle wat meer gaan vat!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.