Luister in 3 minute: Werksverliese, kredietrisiko vir banke bespreek

(Foto: Schluesseldienst/Pixabay)

In die jongste aflewering van 3 Minute, 3 Sake bespreek Gerhard van Onselen, ʼn senior ontleder by Sakeliga, die katastrofiese werksverliese in tweede kwartaal, ʼn stygende kredietrisiko vir banke en die grootste daling in vaste belegging op rekord.

Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) het Dinsdag die jongste (K2 2020) werkloosheidsyfers bekendgemaak. ʼn Geskatte 2,2 miljoen mense het tydens die tweede kwartaal hul werk verloor. Dit beteken die werkende bevolking het afgeneem van sowat 16 miljoen mense na sowat 14 miljoen en die effek, meen Sakeliga, is politieke, maatskaplike en humanitêre gevolge wat die risiko van Covid-19 self kan verdwerg.

Intussen het sommige kenners kritiek gelewer oor hoe StatsSA die syfers aangegee het. Omdat baie mense (in K2) as ekonomies onaktief geklassifiseer is, is onder meer die aantal werklose mense verminder. Dit het die amptelike werkloosheidskoers afgebring (van 31,1% in K1 tot 23,3% in K2), maar skets dit ʼn redelike prentjie?

“ʼn Mens moet aktief na werk soek om (in die QLFS) amptelik as werkloos bestempel te word. Maar wat as jy nie kon nie omdat wetgewers en die polisie jou daarvan weerhou het?

“Die realiteit is dat 2,2 miljoen mense grootliks weens die regulatoriese dwang hul werk verloor het. Dis nie seker hoeveel van daardie werksgeleenthede weer sal kan terugkeer onder die ANC se beleid nie,” sê Van Onselen.

Sakeliga vra tans vir ʼn moratorium op die minimumloon.

Die kredietburo Transunion se onlangse verbruikerskredietontleding wek kommer oor huisskuld.

Hoewel daar tans, weens lae rentekoerse, steeds sterk beweging in die eiendomsmark is, het ernstig agterstallige huislenings (in K2) toegeneem. Agterstallige verbandskuld kan sistemiese gevolge vir die banksektor kan inhou.

Daar is byna R1 000 miljard se verbandskuld uitstaande (in K1), ʼn aansienlike bedrag. Dis gelykstaande aan omtrent 20% van BBP (in 2019). Verder is daar R452 miljard se uitstaande skuld op voertuie.

Ernstig agterstallige verbandskuld (drie of meer betalings agter) het tot sowat 7,8% in die tweede kwartaal gestyg. Vir voertuigskuld staan die syfer op 7,4%.

Sakeliga meen voortslepende Covid-19-inperkings en gebrekkige beleidshervorming sal die herstel van huishoudings se geldsake ná die pandemie bemoeilik.

Nog skadelike newe-effekte van die pandemie is dat die Suid-Afrikaanse Reserwebank vandeesweek aangedui het dat Covid-19-pandemie en die grendelstaat die grootste daling in bruto vaste belegging (sedert rekords begin is) in die eerste helfte van 2020 veroorsaak het.

Die SARB wys daarop dat vaste beleggings ʼn baie belangrike rol daarin speel om groei moontlik te maak. Sulke beleggings ondersteun toekomstige ekonomiese vooruitsigte.

Die grendelstaat het reeds verswakkende koerse van vaste beleggings ʼn nekslag in K2 toegedien is. Met die grootste persentasie daling sedert 1986.

Dit is wel die geval dat vorige swak tendense vererger is. Vaste beleggings het oor tyd – veral in velde soos masjinerie, wat dui op industrialisasie – proporsioneel afgeneem het.

“Ten spyte van beloftes en forums soos Nedlac is Suid-Afrika duidelik nie die industriële beleggingsbestemming waaroor baie politieke gewag gemaak is nie.

“Redeliker beleid en ʼn ophef van die huidige ramptoestand kan daardie realiteit verander,” sê Van Onselen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.