Luister in 3 minute: Wil die regering data nasionaliseer?

data-digitaal-rekenaar-brille

(Foto: Kevin Ku/Pexels)

Die hoofstorie in vandeesweek se 3 Minute, 3 Sake is die nuwe konsepbeleid van die departement van kommunikasie oor data wat in Suid-Afrika in die wolk gestoor word.

Gehard van Onselen, senior ontleder by Sakeliga, bespreek dié kwessie tesame met die regering se verskerpte fases van swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en burokratiese rompslomp van prospekteerregte.

Sakeliga het verlede week kommentaar ingedien op ʼn konsepbeleid van die departement van kommunikasie, genaamd die National Policy for Data and Cloud.

Dit raak ondernemings wat internetdienste gebruik en data in die “wolk” stoor en verwerk. Daniel du Plessis, regsontleder by Sakeliga, beskryf die beleid as ʼn mistasting.

Die IT-sektor ontwikkel stewig sonder die regering. Selfs die kleinste ondernemings kan deesdae toegang kry tot gevorderde IT-dienste teen billike pryse. Voorbeelde is toegang tot IBM se Watson-superrekenaar wat aanvanklik gratis gebruik kan word.

Die beleid bevat ʼn mengelmoes van idees. Een bepaling sal maak dat dienste soos Microsoft Office alle data in Suid-Afrika plaaslik sal moet dupliseer en stoor. Dit sal koste opstoot. Die beleid verklaar ook op bladsy 30 dat alle data wat plaaslik gegenereer word die eiendom van “Suid-Afrika” word. Die stelling is vaag, maar dit kan in effek op data-nasionalisering neerkom.

Daar is ander kwessies ook, soos nasionale spermure en privaatheid. Sakeliga se kommentaar is hier beskikbaar.

Sakeliga het al heelwat gesê oor die volgende verskerpte fases van SEB. Van Onselen kyk vandag na die voorbeeld van SEB wat toegepas word by die uitvoerpermitstelsel vir landbouprodukte na die Europese Unie (EU).

Ingevolge ʼn vennootskapsooreenkoms tussen die EU en die lande wat deel is van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) geld uitvoerkwotas op sekere landbouprodukte soos suiwel, vrugte en neute. In Suid-Afrika moet uitvoerders aansoek doen vir permitte om na die EU te mag uitvoer.

Volgens die Staatskoerant van November 2020 is sulke uitvoerpermitte onderhewig aan vereistes, wat klaarblyklik ʼn geldige SEB-sertifikaat insluit.

Die permitte en goedkeurings van die regering word hier openlik aan SEB gekoppel. Dit is ʼn praktiese voorbeeld van die uitbreiding van SEB-mag in die mark en miskien selfs in internasionale betrekkinge.

Laastens, volgens Moneyweb het Gwede Mantashe, minister van minerale bronne, aangedui tot watter mate burokrasie en rompslomp mynbou belemmer.

James Lorimer van die DA het ʼn parlementêre vraag gestel oor die aantal aansoeke vir die hernuwing van prospekteerregte wat tans hangend is.

In sulke gevalle sal geen ander aansoeker ʼn aansoek kan bring vir sulke regte nie – wat nodig is om te kan myn.

Tans is daar 236 aansoeke wat drie jaar of langer vertraag is. Dit is die hoeveelheid maatskappye wat se prospekteerregte dus in burokrasie gevange gehou word.

Die minerale raad wys op sy beurt dat sowat R20 miljard se potensiële beleggings deur regulatoriese hekkies en rompslomp belemmer word.

Hierdie is ʼn voorbeeld van die ongesiene skade van regulasie en swak bestuur. Die swak uitkomste in die ekonomie is deels te danke aan hierdie soort rompslomp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hoekom ·

Net nog ‘n finansiele privaat sektor reus wat die regering wil bevark en bemors met sy korrupte agendas…

MakersMark ·

Neem aan as dit genasionaliseer word sal daar ‘n staatsbeheerde maatskappy gestig word wat dit bestuur. Ons weet wat gebeur dan – wanbestuur, kaderontpooing, korrupsie en uiteindelik verval en bankrotskap. ANC hou by rookseine stuur of opgradeer na posduif tegnologie maar hou asb verby die een.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.