Luister in 3 minute: Wysigings op wette vir pensioenfondse, rampbestuur

(Foto: Maroela Media)

Gerhard van Onselen van Sakeliga kyk in die jongste aflewering van 3 Minute, 3 Sake na die voorgestelde wetwysigings rakende die pensioenfonds en rampbestuur. Hy plaas ook die vergrootglas op inkomstebelasting.

Die Nasionale Tesourie het onlangs voorgestelde wysigings van regulasie 28 van die Wet op Pensioenfondse aangekondig vir kommentaar.

Waarop kom dit neer? Die voorgestelde regulasies maak dit oënskynlik makliker vir pensioenfondse om in openbare infrastruktuur te belê.

Ontleders soos die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhouding meen dat lede van die publiek teen verpligte voorgeskrewe bates teruggedruk het, en sommige beleggers verwelkom dié stap ter wille van diversifisering.

Sover lyk dit of die beoogde investering meesal vir staatsprojekte, moontlik ook openbare-private-vennootskappe, bestem is.

Effektief sal die regulasies wel poog om pensioenhulpbronne na staatsgeleide projekte te herlei. Sulke projekte is gebonde aan verkrygingsbepalings, soos oor swart ekonomiese bemagtiging, en kan ook vir belastingwaarborge ingespan word.

Sakeliga meen Suid-Afrikaners moet ook wonder hoe ekonomies sulke hulpbronne werklik in projekte aangewend sal word. Hoe lonend was daardie sokkerstadions van 2010 uiteindelik? Indien die projekte nie uitwerk nie, gaan iemand vir die gelag betaal.

ʼn Verdere vraag? Wat gebeur indien fondse nie na willekeur sulke beleggings opneem nie? Word die “kan daarin belê” dan ʼn “moet daarin belê”? Daaroor kan ons tans net wonder.

Die ekonoom Azar Jammine het onlangs beraam dat sowat 5,8% van mense in Suid-Afrika sowat 92% van die inkomstebelasting betaal.

Die Solidariteit Navorsingsinstituut het vantevore soortgelyke syfers aangedui waar die prentjie nog erger was.

Presiese syfers ten spyt, die uiteinde van die saak is dat ʼn klein segment van die bevolking die meeste inkomstebelasting betaal.

Jammine wys ook daarop dat die regering se belastinginkomste in Oktober 2020 effe beter was as verwag. Jammine meen die rede daarvoor was dat hoewel heelwat mense betrekkings en inkomste verloor het, die uitwerking erger was op diegene wat nie genoeg verdien om inkomstebelasting te betaal nie.

Die armer groepe het in verhouding swaarder gekry. Die ongelyke aard van die uitwerking van die Covid-19-inperkings word elke dag duideliker.

Laastens het Sakeliga vandeesweek ook kommentaar ingedien op ʼn parlementêre kennisgewing oor ʼn wysiging op die Wet op Rampbestuur.

Volgens Sakeliga se voorstel moet die Wet op Rampbestuur aangepas word. Daar moet seker gemaak word dat die stappe wat die regering doen om rampe te bestuur billik en versigtig is.

Die voorstel vra onder meer vir groter aanspreeklikheid van openbare amptenare by roekelose regulering, asook billiker prosesse om die skade van inperkingsmaatreëls versigtiger te oorweeg, veral by langdurige ramptoestande.

Sakeliga se voorstel versoek ook dat ʼn hekkie van “streng noodsaaklikheid” daargestel word wanneer eensydige maatreëls grondwetlike regte wesenlik inperk. Covid-19 is ʼn ernstige saak, maar selfs in tye van krisis moet ʼn konstitusionele orde en persoonlike vryhede geëer word.

Lede van die publiek word aangeraai om self ook voorstelle aan die parlement te stuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.