Luister: Is jy ʼn ondersoeker?

Foto ter illustrasie. (Foto: Anthony Tori/Unsplash)

“Die energie tussen mense vat so baie van hulle, dat hulle ʼn besluit geneem het om van die wêreld te onttrek. Om die wêreld van ʼn afstand af dop te hou en na ʼn binnewêreld te emigreer, en so word hulle die observeerders van die lewe.”

Só beskryf Louis Venter, kliniese terapeut, stigter van Couples Help en Enneagram-kenner, die vyfde persoonlikheidstipe op die Enneagram. In hierdie episode van Maroela Media se podsendingreeks oor dié persoonlikheidsmodel, word daar ondersoek ingestel oor die wêreld en persoonlikheidsmotivering van Tipe 5 op die Enneagram.

Dié tipe staan as die ondersoeker bekend, juis omdat hulle eerder kies om waar te neem en te ondersoek, as om deel te neem. Hierdie besluit spruit dikwels vanuit ʼn uitputtende verhouding in hul kinderjare, soos dié met ʼn depressiewe, manipulerende of aggressiewe ouer. ʼn Gesin met baie kinders kan ook die rede wees waarom dié tipe besluit om eerder die analiseerders, waarnemers en denkers van die lewe te wees.

“Dit is mense wat vroeg in hul lewe die ervaring gehad het dat konneksie met ander mense van hulle wegvat, hulle energie tap, dat hulle daardie mense moet bestuur. Hulle was op ʼn baie jong ouderdom oorweldig met die intensiteit van verhoudings.”

Begrip van dit wat rondom hulle aangaan, is dikwels hul behoud, hoewel hulle nie altyd hul kennis of wysheid met die wêreld sal deel nie.

“ʼn Vyf praat nie sommer nie. Hy sal net iets sê as hy of sy weet dat hulle iets het om te sê.”

Hierdie persoonlikheidstipe vermy ook konflik waar hulle kan, verduidelik Louis. Wanneer hulle met konflik te doen kry, word hulle dikwels oorweldig met emosies en verstaan nie hoe om die situasie te hanteer nie.

“Die vyf se perfekte wêreld is een van harmonie en stilte, waar mense nie te veel van mekaar nodig het nie.”

  • Luister boaan na die sesde episode van Maroela Media se podsendingreeks oor die Enneagram.
  • Besoek Louis se webwerf, Couples Help, hier.
  • Luister na vorige episodes in die reeks hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.