“Kan ek my eiendom self verkoop? Is dit moontlik? Dit antwoord is ja.”
Dít is Henck Conrey, aanbieder van kykNET se Vat jou goed en trek! en mede-eienaar van ʼn eiendomsagentskap, se antwoord op die vraag of ʼn eiendomsagent altyd nodig is?
Hy benadruk egter dat soos met enige ander besluit, daar voordele en nadele verbonde is aan die rigting wat jy kies om in te slaan. Dit is nou hetsy jy die proses aanpak met of sonder ʼn eiendomsagent aan jou sy.
Een van die grootste voordele daarvan om die verkoopsproses sonder ʼn agent aan te pak, is die feit dat jy nie kommissie hoef te betaal nie.
“Hierdie bedrag is ʼn teer punt vir baie eiendomsverkopers, gegewe dat die agent sowat 5% van die verkoop van die eiendom ontvang. Enigiemand wat ʼn eiendom besit, kan vir ʼn klein fooitjie ʼn eiendom op Property24 of Private Property lys,” verduidelik Conrey.
“Dit is dieselfde platforms waarop agente hul eiendomme adverteer. As jy self jou eiendom wil verkoop, is daar ʼn hele paar platforms waar jy dit totaal en al onafhanklik kan doen.”
Conrey sê ook dat daar eintlik niemand anders meer gekwalifiseerd in die verkoop van jou eie huis is nie.
“Jy bly daar, jy loop daagliks deur al daardie gange, en jy weet presies wat jou ruimte spesiaal maak. Daar is niemand wat jou eiendom se merkwaardigheid kan vertoon soos jy nie.”
Dit is ook makliker om vertonings van die eiendom te bestuur wanneer jy self aan die stuur van die proses is, sê hy.
Aan die anderkant van die muntstuk, waarsku Conrey dat agente bepaal watter koper daartoe in staat is om die eiendom te kan koop al dan nie. Wanneer jy die eiendom self probeer verkoop, is daar nie altyd voldoende maniere om ondersoek in te stel, in wie die koper is en of hulle jou eiendom werklik sal kan koop nie.
Dit kan in ʼn mors van tyd en geld ontaard, sê Conrey.
“Dit verleng die proses, en op die ou einde is dit ʼn reusestruikelblok vir diegene wat hul eiendom self wil verkoop.”
Daar is ook verskeie regskwessies wat in die koop en verkoop van ʼn eiendom uitgestryk moet word, en indien dit nie reg geskied nie, kan die verkope van jou eiendom in ʼn regspenarie ontaard. Dit kan lei tot allemintige regskostes, wat baie duurder is as wat die kommissie van ʼn agent ooit sou wees.
- Luister na die volledige episode boaan die artikel.
- Vir meer inligting, besoek hierdie Facebook-bladsy of Henck Conrey se Instagram-bladsy.
- Lees ook ons onderhoud met Henck Conrey hier op Maroela Media.