Luister: Kenner gesels oor broodbome

Die broodboom het ‘n nuwe tuiste by die Voortrekkermonument gevind. (Foto: Cycad Trust / Broodboom Trust / Facebook)

Broodbome is ʼn oerplant en daar is talle van die plante wat eie aan Suid-Afrika is. Het jy byvoorbeld geweet broodbome hou eintlik glad nie van nat voete nie, en dit kan selfs veroorsaak dat die plant vrot?

Tilania du Preez het ʼn besonderse liefde vir die plantspesie en sy is ʼn kenner van broodbome wat ook al jare lank help om die plante in en om Pretoria te bestuif.

Du Preez is deel van die plaaslike Broodboom-stigting en het vroeër vanjaar met Maroela Media kom gesels oor die plante en ʼn droom van die stigting om ʼn tuin met inheemse broodbome by die Voortrekkermonument aan te lê.

Volgens haar is een van die broodbome wat aan die westekant van dié monument staan, moontlik reeds 150 jaar oud.

“Dit is ʼn plant wat jy nie kan aanjaag nie; dit groei maar stadig. Party mense dink hulle kan ʼn broodboom vinniger laat groei met superfosfaat, maar die plant kry infeksie omdat dit te vinnig groei en vrek dan gewoonlik. Laat dit maar eerder op sy eie tyd groei,” sê Du Preez.

Sy sê iemand wat graag broodbome wil aanplant, kan begin deur vir hulle boeke oor die plant aan te skaf en dan by ʼn organisasie soos die Broodboom-vereniging se plaaslike tak aan te sluit.

Tilania du Preez van die Broodboom Trust, Willie Strauss, kosskrywer en sanger, en prof. Kobus Eloff, ʼn plantbiochemikus, het die eerste plante van die Voortrekkermonument se nuwe kruietuin in September geplant. (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)

“Hier gaan jy kenners ontmoet wat vir jou raad kan gee en jy sal ook plante teen ʼn billike prys kan aankoop.

“Die vereniging doen ook graag toere na plase waar jy broodbome in hul oorspronklike ongerepte habitat kan vind. Iets waartoe jy op jou eie nie maklik toegang sal kry nie, en boonop word die toere ook spotgoedkoop aangebied.”

Sy is ook ywerig oor die beskerming van inheemse broodbome. Sy reken die plante is dikwels nie meer veilig in die land se nasionale parke en botaniese tuine nie omdat ʼn mens ʼn stewige lot geld kan verdien deur die verkoop van die broodbome. Sommige van hierdie plante kan tot soveel as R5 000 vir ʼn sentimeter van die plant beloop.

“Lande soos die VSA, Meksiko en Indonesië is in besit van talle van ons skaarste inheemse broodboomspesies. ʼn Mens kan nie help om te vra hoe het dit in die land beland as dit nie uitgevoer mag word nie.”

Du Preez glo armoede en desperaatheid dra grootliks by tot stroping van Suid-Afrika se inheemse plantspesies. “As iemand nie kan eet nie, gaan hulle beslis nie eerste daaraan dink om iets soos ʼn plant te beskerm nie.”

  • Luister na die volledige onderhoud bo-aan die berig.
  • Enige iemand wat die Broodboom-stigting wil ondersteun, kan hulle Facebook-blad vir meer inligting besoek.

‘n Broodboom word uitgehaal en weer by die Voortrekkermonument geplant. (Foto: Cycad Trust / Broodboom Trust / Facebook)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Esme ·

Baie dankie vir die insiggewende artikel oor Broodbome. Ons is besonder lief vir die boomsoort, maar twee van ons Broodbome, wat ironies genoeg, baie blootgestel is aan die elemente groei – die derde outjie, geniet beskutting, maar hy het ‘aanpassingsprobleme’. Ek glo dat tyd sy leermeester sal word, maar die spesie le ons baie na aan die hart.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.