Luister: Moody’s kap Tshwane-metro raad; NGV met regstappe beveg

(Argieffoto: Riaan Cronje)

In vandeesweek se 3 Minute, 3 Sake praat Daniel du Plessis van Sakeliga oor Solidariteit se planne om regstappe teen die instelling van die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) te neem. Tshwane-metro se kredietgradering is skerp afgegradeer en kommer heers oor die verskerpte inperkingsmaatreëls se invloed op sakeondernemings.

Sakeliga het pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging van aangepaste vlak 4 van afsondering veroordeel.

Dié sake-organisasie sê die regering se gesentraliseerde benadering se uitkoms tot dusver was uiters swak, nie net die ekonomiese uitkomste nie, maar ook die mediese uitkomste daarvan.

Ingevolge die nuwe regulasies is onder meer die aanklokreël verleng, drankverkope weer eens opgeskort, skole moet sluit en restaurante mag slegs wegneemetes lewer. Reis na en van Gauteng word ook beperk. Baie van die reëls kom nou met kriminele aanspreeklikheid.

Hierdie reëls sal beslis sekere ondernemings oor die rand van die afgrond stoot. Dit sal die aantal werkverliese, wat reeds 1,4 miljoen is, net vermeerder.

Die Covid-19-bedeling word eensydig, steeds sonder openbare konsultasie of parlementêre oorsig toegepas.

In ander sakenuus het die kredietgraderingsagentskap Moody’s die Tshwane-metro se skuld skerp afgegradeer. ʼn Yslike afgradering van vier kerwe, van B1 tot Caa2, is aangebring en die metro bly ook boonop op hersiening vir verdere afgradering. Hierdie is ʼn aanduiding van die stand van talle plaaslike munisipaliteite.

Moody’s het kommer oor die hoofstad se kontantvloei, asook die moontlikheid dat skuld versnel kan word by sy besluit genoem. Die huidige tekort en komende skuldterugbetalings is ook ingeweeg.

Moody’s verwag dat bedryf- en likiditeitsdruk sal voortduur oor die mediumtermyn. Swak bedryfsprestasie, wat swak invordering aanvuur, is deur die impak van die pandemie en hoë bedryfskoste vererger.

Sakeliga voer tans ʼn veldtog oor groter munisipale verantwoordbaarheid.

En laaste, die vakbond Solidariteit oorweeg tans regstappe teen die parlement oor die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV). Dit sal van stapel loop indien die NGV afgedwing word.

Maroela Media het berig dat Solidariteit menigmaal versoek het om voorleggings aan die parlement te maak.

Connie Mulder, hoof van Solidariteit se navorsingsinstituut, meen dat die regering bloot die NGV op lede van die publiek gaan afdwing, en dat die komitee die proses wil stoomroller.

Enige poging om die NGV so af te dwing, waarsku Mulder, sal met litigasie begroet word.

In Sakeliga se ervaring is verskeie prosesse wat die regering volg tydens openbare deelname uiters twyfelagtig. Een daarvan is byvoorbeeld gebrekkige impakstudies wat ʼn wanvoorstelling oor beleid se suksesse skep.

Beleidmakers belowe tans die wêreld in voorgestelde wette soos die NGV en met onteiening sonder vergoeding. Wat egter kort is ʼn eerlike kykie na die gevolge.

Deelnameprosesse moet plaasvind op grond van feite eerder as politieke wensdenkery.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.