Luister president Cyril Ramaphosa Podlitiek?

Opgestel deur die Podlitiek-span

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Met die ANC en veral President Cyril Ramaphosa wat in die afgelope week skynbaar ’n paar besluite geneem het wat teen hul beginsels ingaan, wonder die Podlitiek-span of die groot kokkedore aan die sogenaamde stuur van Suid-Afrika dalk van tyd tot tyd op hul podsending inskakel. Vernaamlik ten opsigte van die nuus oor die SAL en Eskom wat die afgelope week bekendgestel is.

Met Daniël, Paul en Ernst agter die mikrofone ontnonsens Podlitiek oudergewoonte hierdie week ’n paar nuusstories. Die eerste is dié van Eskom wat aangekondig het dat privaat opwekking van krag nou van 1 megawatt na 100 megawatt opgeskuif gaan word. Dit mag voorkom asof die ANC dalk ’n meer vryemarkbenadering begin volg, maar Ernst is van mening dat hierdie maar net benoude katte is wat benoude spronge maak. Waarheen nou vir Eskom, waarheen nou vir elektrisiteit in Suid-Afrika? Podlitiek bespreek hierdie kwessie deeglik.

Volgende aan die beurt is dit die SAL, waarvan onlangs aangekondig is dat die regering nie meer die meerderheidsaandeel gaan hou nie. Alvorens enigiemand hieroor jubel en juig, moet daar opgemerk word dat die maatskappye wat nou ’n aandeel in hierdie besighede bekom het, nie noodwendig so ver van die regering is as wat ’n mens dalk sou hoop nie. Dit mag wel dalk wees dat die jaarlikse reddingsboeie vir eers effens sal afneem.

Laastens word die terugskuif na vlak 3 van die inperking bespreek, met pres. Cyril Ramaphosa wat eintlik, heel voorspelbaar, die maatreëls opgeskerp het. Wat die Podlitiek-span wel pla, is die wyse waarop die entstofplan tot dusver uitgerol is, wat ’n mens die vraag laat vra of hierdie maatstawwe werklik nodig sou wees as daar meer werk en minder berigte van korrupsie was by die departement van gesondheid.

Al hierdie stories en meer in hierdie week se Podlitiek.

Podlitiek lewer nie die nuus nie, hulle maak dit. Luister Podlitiek.

  • Die Podlitiek-span bestaan uit Hermann Pretorius (IRV), Ernst van Zyl (AfriForum), Paul Maritz (Solidariteit) en Daniël Eloff (Hurter Spies Ing.).

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Podsendings

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.