Luister: Suksesvolle entrepreneurs delegeer

Ajay Wasserman, ʼn jong en dinamiese entrepreneur van Pretoria, gesels in Maroela Media se ateljee. (Foto: Ajay Wasserman/Facebook)

Waarin lê die sukses van welvarende entrepreneurs opgesluit, en hoe kry ʼn mens daardie ondernemingsidee van die grond af?

Ajay Wasserman, ʼn jong en dinamiese entrepreneur van Pretoria, gesels in Maroela Media se ateljee oor die verdeling van take, tydbestuur en hoë risiko’s wat entrepreneurs moet neem.

“Entrepreneurs wat sukses behaal, weet hoe om te delegeer, en hulle weet watter aspekte van die onderneming voorrang moet geniet,” sê Wasserman. “Ek sou graag vinniger wou leer hoe om take uit te deel.”

Hy verduidelik dat sake-eienaars wat alle afdelings van die onderneming wil beheer in die proses eintlik belangriker goed afskeep. “As jy jou prioriteite reg kan bestuur, sal jy suksesvol wees.”

Beskou hy homself as welvarend?

“As jy ʼn suksesvolle entrepreneur is, is dit omdat jy suksesvolle mense om jou het. So, dit gaan alles oor die kennis om die werktafel en die ondersteuning wat jy van personeel kry. Is ek self suksesvol? Nee wat,” meen Wasserman.

Volgens Wasserman is dit nie moontlik om jou produktiwiteit te verhoog deur doeltreffende tydbestuur nie, want “almal het dieselfde 24 uur in ʼn dag”.

“Ek glo nie in ʼn ding soos tydbestuur nie. Daar is geen manier om meer of minder tyd in ʼn dag te kry nie. Maar wat ons wel kan doen, is om ons prioriteite te bestuur,” sê hy.

Om ʼn onderneming van die grond af te kry kan oorweldigend wees. Waar begin ʼn mens en wat moet eerste gebeur?

Dié 30-jarige entrepreneur sê die eerste stappe is om seker te maak jy verstaan wat en hoe jy dit wil doen. Daarna is dit belangrik om te bepaal in watter mark jy gaan werk en waar die kapitaal vandaan gaan kom.

“Beginnerondernemers moet in gedagte hou dat hulle waarskynlik nie binne ʼn jaar of twee skatryk gaan word nie. Die eerste poging, ontwerpe of sakeplan gaan ook nie perfek wees nie.

“My raad is om net weg te spring, begin jou onderneming, toets die waters, leer daaruit en groei saam met die maatskappy. Dit is soos om die valskerm op pad af grond toe, te bou. Dit is wat entrepreneurs doen: hulle waag hoë risiko’s en bou die legkaart soos wat hulle aangaan.”

Volg vir Ajay Wasserman op Facebook, YouTube of besoek sy webwerf om meer oor entrepreneurskap te wete te kom.

  • Luister boaan die artikel na die volledige onderhoud met Ajay Wasserman.
  • Klik hier om te luister hoe Ajay Wasserman in Maroela Media se ateljee gesels oor die plaaslike ekonomie en entrepreneurskap. Hy vertel ook waar sy loopbaan in die sakewêreld begin het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.