Luister: Verwagtinge vir Mboweni se mini-begroting

Tito Mboweni, minister van finansies (Foto: ANA)

Tito Mboweni se eerste begrotingsrede hierdie week sal, onder andere, ʼn toets wees om te sien of hy ʼn man van sy twiets is, meen die sakeorganisasie Sakeliga.

In ʼn brief vandeesweek aan Sakeliga-lede, skryf Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, ʼn belangrike maatstaf vir die Mboweni-mediumtermyn-begrotingsrede is die nuwe minister van finansies se visie vir die grootte van die regering.

“Glo Mboweni dat die regering groter of kleiner moet word? As Mboweni bereid is om die fiskale en ekonomiese krisisse vierkantig in die oë te kyk, sal hy praat van belastingverligting om die ekonomie te stimuleer, die besnoeiing van staatsuitgawes om Suid-Afrika se afgly in ʼn skuldmoeras te voorkom, en die hervorming van staatsverkryging om dit minder rasgebaseer en meer effektief te maak. Hierdie sal positiewe tekens wees,” lui die brief.

Le Roux meen egter daar is ook gevalle waarin sy boodskap sterk negatiewe seine sal stuur: “Dit sal rampspoedig wees as dit blyk dat Mboweni ʼn man van sy twiets is en, as finansminister, sy ondersteuning toesê aan beleide soos 40%-staatseienaarskap van mynmaatskappye, ʼn staatsbank, ʼn staatsfonds, en ʼn aansienlike uitbreiding van staatsgrondbesit. Die laaste ding wat die ekonomie en tesourie nodig het, is ʼn finansminister wat sy beleidsinsigte aan Marxisties-Lenistiese teorie, die nasionale demokratiese rewolusie en radikale ekonomiese transformasie ontleen.”

Le Roux benadruk die benarde posisie van die fiskus: “Die Suid-Afrikaanse staat ervaar ernstige fiskale druk. Die tydelike beweegruimte wat hoë belastinginkomste in die jare voor die finansiële krisis van 2008/9 gebied het, is nou uitgeput (figuur 1).

“Selfs sonder die groot items wat nie op die regering se balansstaat ingesluit is nie, soos staatswaarborge vir staatsinstellings (soos Eskom) se skuld, het die Suid-Afrikaanse regering in die afgelope dekade elke jaar tussen R100 miljard en R250 miljard se skuld aangegaan (figuur 2). Om die fiskale krisis af te bestuur sal Mboweni ʼn plan moet voorlê om die begrotingstekort tot ten minste onder R100 miljard per jaar te bring.”

Le Roux sluit af: “Waarheen Mboweni die Tesourie op Woensdag sal neem, moet nog gesien word. As hy ingrypende uitgawe-besnoeiing aankondig en dié hulpbronne aan die privaat sektor oorlaat, sal dit ʼn rede vir hoop wees. As hy egter preek wat hy twiet en sodoende sy geloof in groter markinmenging deur die regering bevestig (asof dit hierdie keer ander gevolge sal hê), behoort ons inderdaad baie bekommerd te wees.”

Die mediumtermyn-begroting sal op die 24ste Oktober voorgelê word. Ná die voorlegging sal Sakeliga verdere ontleding bied, met ʼn besondere fokus op die begroting se effek op die sakeomgewing, markvryheid, beleggings, indiensneming en belasting.

  • Gerhard van Onselen, senior ontleder by Sakeliga, brei in die klankgreep bo aan die blad uit oor Sakeliga se verwagtinge.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.