Luister: Wat is die Enneagram en hoe kan dit jou help om jouself beter te verstaan?

Foto ter illustrasie. (Foto: Pixabay)

“Meer as wat die Enneagram tipeer, wys dit diep persoonlikheidsmotiverings. Dit is meer as om net vir iemand te sê dat hy ʼn ekstrovert, introvert, melancholies of emosioneel is. Dit help jou om te verstaan hoekom jy doen wat jy doen.”

Só verduidelik Louis Venter, kliniese terapeut, stigter van Couples Help en Enneagram-kenner, dié ingewikkelde, dog interessante, persoonlikheidsmodel.

Die Enneagram is een van die oudste psigo-spirituele persoonlikheidsmodelle, verduidelik Louis verder. “Ennea” beteken nege, terwyl “gram” net dui daarop dat dit ʼn diagram is.

Daar is nege persoonlikheidstipes op die Enneagram. In hierdie podsendingreeks sal Louis elkeen van dié persoonlikheidstipes uiteensit en verduidelik.

“In my opinie, is daar nie ʼn toets wat ʼn mens kan skryf nie. Die Enneagram is ʼn selftiperingsmodel,” verduidelik Louis.

“Die Enneagram toets nie gedrag nie, maar motivering.”

Daar word dus aanbeveel dat elke individu dieper delf in elke tipe op die model, en self besluit waar hulle op die Enneagram lê. Louis stel ook voor dat enigeen wat hulself in dié persoonlikheidsmodel wil verdiep, ʼn boek daaroor moet aanskaf en sodoende op ʼn langtermyn ontdekkingsreis met hulself gaan.

“ʼn Toets op die internet toets gedrag, en baie tipes kan soortgelyke gedrag hê. Die vraag is hoekom tree jy so op.”

Louis Venter. (Foto: verskaf)

ʼn Beter begrip van die Enneagram sal nie net lei tot ʼn verbetering van selfbegrip nie, maar ook in die verdieping van verhoudings – juis omdat daar nou ʼn dieper kennis oor die motivering agter ʼn persoon se dade is.

Die Enneagram word ook aan Christenskap verbind.

“Die hart van Christenskap is God se liefde wat ons omarm, die boodskap dat ons genoeg is, en dit is iets wat alle persoonlikhede moet hoor: ons is genoeg.”

Skakel volgende week in vir die volgende aflewering van Maroela Media se podsendingreeks oor die Enneagram, wanneer ons oor tipe 1, oftewel die perfeksionis, gesels.

  • Luister boaan na die eerste episode van Maroela Media se podsendingreeks oor die Enneagram.
  • Besoek Louis se webwerf, Couples Help, hier.
  • Luister na vorige episodes in die reeks hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.