In die vierde episode van Onder die Bome, ʼn podsending-gebaseerde reeks wat handel oor filosofie, praat podsender Daniel du Plessis met Hercules Boshoff van die Chairefoon-inisiatief oor die woord “samelewing”.
Wat is ʼn samelewing? Wat lê in die hart daarvan, in sy wese? Ons hoor dit so gereeld, en ons is amper oortuig daarvan dat ons deel van ʼn samelewing is, maar dan moet ons sekerlik weet wat dit is, en hoe dit funksioneer?
Hercules definieer samelewing, of saamleef as gedeelde waaksaamheid en kultivering van wat dit beteken om te lewe. Op ʼn grondvlak het ons eerstens te make met blote lewe waarvoor die verskaffing van voedsel, versorging en beskerming noodsaaklike is. Maar daar is talle ander aspekte betrokke in ons verhoudinge in die gesin, gemeenskap en die staat.
Die gesprek draai dan by die woord “mag”. Aan diegene wat dinge kan doen wat die samelewing tot voordeel strek, word toestemming gegee, hulle mág. Dié woord impliseer dus noodwendig “ongelyke verhouding”. Mag sit vertroue in aangewese persone se vermoëns, hul moontlikheid om iets uit te rig tot voordeel van ander. ʼn Volgende interessante vraag waarby die twee sprekers draai, is die impak wat mag op vryheid het. Mag kan tot die onderdrukking van mense lei, wat beteken om die vermoë om die goeie te kultiveer, te kelder – die goeie kan dus nie meer gedoen word nie. Luister gerus na hierdie lekker episode en dink saam!
Hierdie episode is met trots geborg deur Akademia. As filosofie, politiek en die ekonomiese sfeer jou fassineer, dan is Akademia se veelsydige graadkwalifikasie in politiek, filosofie, en ekonomie, die perfekte volgende stap in jou loopbaanreis. Besoek www.akademia.ac.za vir meer inligting.
- As hierdie episode oor die samelewing vir jou lekker was om na te luister, dan sal volgende week se episode, wat handel oor die idee van geregtigheid, jou sonder twyfel prikkel!